Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 9 April

Jesus maak alles nuut

Bybelteks(te)

DIE OPENBARING 21

Die nuwe hemel en die nuwe aarde

1Toe het ek 'n nuwe hemel en 'n nuwe aarde gesien. Die eerste hemel en die eerste aarde het verdwyn, en die see het nie meer bestaan nie. 2En ek het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, van God af uit die hemel uit sien afkom. Die stad was gereed soos 'n bruid wat vir haar man versier is.

3Toe het ek 'n harde stem van die troon af hoor sê: “Kyk, die woonplek van God is nou by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God. 4Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan.”

5Toe sê Hy wat op die troon sit: “Kyk, Ek maak alles nuut.”

En daarna sê Hy: “Skryf hierdie woorde op, want hulle is betroubaar en waar.”

6Verder sê Hy vir my: “Dit het klaar gebeur. Ek is die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde. Aan elkeen wat dors het, sal Ek te drinke gee uit die fontein met die water van die lewe, verniet. 7Elkeen wat die oorwinning behaal, sal dit alles kry, en Ek sal sy God wees, en hy sal my seun wees.

8“Maar dié wat bang en ontrou geword het, die losbandiges, moordenaars en onsedelikes, bedrieërs en afgodsdienaars en al die leuenaars, hulle lot is die poel wat met vuur en swael brand, dit is die tweede dood.”

DIE OPENBARING 21:1-8AFR83Maak oop in die Bybelleser

Keiser Augustus is deur die Romeinse Ryk nie net as die seun van ’n god gesien nie, maar ook as die een wat ’n nuwe, goeie era laat aanbreek het in die Romeinse Ryk. Hierdie era was bekend as die vrede van Rome. Nêrens anders is dit meer duidelik nie as in die lof wat deur Paulus Fabius Maximus in 4 nC toegedig is aan keiser Augustus.

Maximus het gemeen dat die geboortedag van Augustus oral in die Ryk verkondig moet word as “evangelie” (goeie nuus) vir die mense. Verder moes hierdie geboortedag gesien word as die begin van die nuwe jaar. Sy motivering was soos volg: Die skepping was besig om in chaos te verval, alles was besig om ongedaan gemaak te word en sou tot nuut gegaan het. Maar toe kom Augustus en herstel die ganse skepping. Die gevolg was dat ’n “nuwe skepping” tot stand gekom het en die mense geleef het volgens die waardes van hierdie nuwe Ryk in diens van Augustus.

Johannes gee egter vir ons ’n ander beeld. Hy vertel van ’n ander gebeurtenis wat ’n nuwe hemel en nuwe aarde tot stand gebring het (Op 21:1). Hierdie gebeurtenis was egter nie een van groot militêre oorwinning nie, maar toe God onder die mense kom woon het (letterlik: toe God God se tent onder die mense kom opslaan het – Op 21:3; Joh 1:14). Die gevolg hiervan was dat die wêreld se koninkryke, eer en lof nie meer aan Augustus behoort het nie, maar dat dit alles God alleen toekom (Op 11:15; 19:6).

As gelowiges deel ons ook in hierdie nuwe hemel en aarde van God. Ons behoort ons lewens so in te rig dat dit die waardes van hierdie ryk tentoonstel en altyd so uitvoer dat dit tot eer van God sal wees. Waardes van omgee en liefde vir mekaar, en dit alles tot eer van ons God en Heer, want Hy wat op die troon sit, het gesê: Kyk, Ek maak alles nuut (Op 21:5).

Gesang 601

Ds Robert van Niekerk, Noordelike Pretoria

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS