Dagboek 2021 – 10 April
Hoe getuig ons?
Bybelteks(te)
DIE OPENBARING 5
Die Lam is waardig om die boek oop te maak
Openbaring stel die sewe gemeentes aan wie dit gerig is, asook ons as gelowiges, voor ’n keuse. Nêrens kom hierdie keuse duideliker voor nie as in Openbaring 5. Hier word vertel hoe daar gesoek word na iemand waardig genoeg om ’n boekrol te neem en die seëls daarvan oop te breek (Op 5:2-3). Aanvanklik blyk dit dat daar niemand is wat waardig is om hierdie taak te verrig nie (Op 5:4), maar dan tree iemand na vore en vertel wie dit is wat waardig is om dit te doen. Hierdie hemelse ouderling vertel dat die Leeu uit die stam van Juda, die loot van Dawid (Op 5:5, NDV), die Een is wat waardig is om die boekrol te neem.
Hierdie getuienis sluit aan by Israel se tipiese verwagting van wie die verlosser van die wêreld sou wees. Dit is ’n magtige en sterk persoon (’n Leeu), ’n koninklike figuur (die loot van Dawid). Dit sou die messias wees wat met ’n ysterhand regeer en die vyande van Israel vernietig. Johannes getuig egter van ’n ander verstaan van wie God se Messias is. Dit is toe nie ’n leeu nie, dit was nog nooit ’n leeu nie, maar ’n Lam, soos een wat geslag is, maar staande (Op 5:6). Die Messias is toe nie Een wat oorwin deur geweld en mag nie, maar deur ʼn liefdesoffer, deur nederigheid en deur getrou aan God te wees tot die dood toe.
So roep Johannes ook sy gemeentes op om te getuig van die evangelie van God, ’n evangelie van oorwinning deur liefde en genade. Dit is die evangelie van die oorwinning van en oor die dood. Ons word ook so opgeroep om hierdie keuse te maak, en wanneer ons kies om die getuienis van die Lam voort te sit, hoor ons weer die woorde van die harde stem uit die hemel: Húlle het hom oorwin op grond van die bloed van die Lam en op grond van hulle getuienis (Op 12:11, NDV).
Ds Robert van Niekerk, Noordelike Pretoria