Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 8 Desember

Doeke lê rond

Bybelteks(te)

MARKUS 16

Jesus verskyn na sy opstanding

9Ná Jesus se opstanding vroeg die Sondagmôre, het Hy heel eerste aan Maria Magdalena verskyn, uit wie Hy vantevore sewe bose geeste uitgedrywe het. 10Sy het dit vir sy dissipels gaan vertel wat oor Hom getreur en gehuil het. 11Alhoewel hulle by haar gehoor het dat Hy lewe en dat sy Hom gesien het, het hulle haar tog nie geglo nie.

12Daarna het Jesus met 'n ander voorkoms aan twee van hulle verskyn terwyl hulle op pad was na die platteland toe. 13Hulle het dit vir die ander dissipels gaan vertel, maar dié het selfs vir húlle ook nie geglo nie.

14Later het Jesus aan die elftal self verskyn terwyl hulle aan tafel was. Hy het hulle verwyt oor hulle ongeloof en hardheid van hart omdat hulle dié wat Hom ná sy opstanding gesien het, nie geglo het nie.

MARKUS 16:9-14AFR83Maak oop in die Bybelleser

Adventtyd is ook die tyd om na te dink oor wat ons glo. Ons glo nie so maklik nie. Ons wil eers weet: Is daar nie ander verklarings nie? Geloof handel oor sy koms na die aarde, maar ook sy klaarmaak hier op aarde, oor babadoeke, maar ook doeke in die graf.

Een afleiding was dat iemand Jesus kom steel het. Maar die doeke is ’n belangrike vonds. Party doeke is sommer rondgestrooi, ander is netjies opgerol. Dis nie hoe diewe werk nie. Nee, diewe het nie vir Jesus gesteel nie.

Is opstanding ’n moontlikheid? Lasarus het opgestaan. Ja, maar Lasarus hou sy doeke aan, Jesus nie. Jesus het die doeke nie meer nodig nie. Jesus het die doeke ontgroei, Hy is nou te groot vir sy doeke. Die Jesus wat opstaan, keer nie na die lewe toe terug net soos Hy voorheen was nie. As die dissipels opgewonde was toe Jesus gesê het Hy praat nou met hulle reguit oor hoe die koninkryk van God werk, gaan ons, as ons vir Jesus nóú gewaar, die ware jakob teëkom. Dit is toe ook so, want toe Maria agterkom dis Hy en aan Hom wou vat, sê Hy: Moenie! Nie nou al nie.

Liefde help ons glo. Johannes was vir Jesus baie lief, en liefde help jou om die een wat jy liefhet, beter te verstaan. Johannes weet dadelik Jesus leef! Paulus het vir Jesus min liefde gehad. Vir Paulus moes God as’t ware met ’n knuppel oor die kop moker om hóm sterretjies te laat sien. Party van ons sien net doeke rondlê en ons glo. Ander van ons het nou nog kopseer, maar ons glo.

Ons glo ons het hier met die lewende God te make. Jesus Christus was dood, en Hy lewe. Jesus het opgestaan.

Hou oop jou oë: Jy gaan Jesus se doeke oral sien rondlê, sommige sommer gestrooi soos die klere in jou tiener se kamer, ander netjies opgevou en gebêre. Wees lief vir Jesus (en jou tiener ook!)! Net die doeke is genoeg om te weet: Jesus leef, en Jesus is die Here.

Ds.Hennie la Grange, Kampersrus

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS