Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 7 Desember

Immanuel: God (is ook nou) met ons

Bybelteks(te)

JESAJA 7

10Verder het die Here gesê: Jy moet ook nog vir Agas sê: 11Vra van die Here jou God 'n teken, enigiets, diep uit die doderyk of uit die hoogtes daarbo.

12Maar Agas het geantwoord:

“Ek sal niks vra nie, ek sal die Here nie tart nie.”

13Toe sê Jesaja:

“Luister, geslag van Dawid!

Is dit vir julle nie genoeg om mense te vermoei nie, dat julle nou ook my God moet vermoei? 14Die Here sal daarom self vir julle 'n teken gee: 'n Jong vrou sal swanger word en 'n seun in die wêreld bring en sy sal hom Immanuel noem. 15Hy sal net dikmelk en heuning hê om te eet totdat hy weet om te verwerp wat verkeerd is en te kies wat goed is. 16Maar voordat die seuntjie weet om die verkeerde te verwerp en die goeie te kies, sal die lande van die twee konings vir wie jy bang is, verwoes lê.

17“Wat jou, jou volk en jou familie betref, die Here sal 'n tyd oor julle laat kom soos daar nie was sedert die dae toe Efraim van Juda af weggebreek het nie. Dit sal gebeur deur die koning van Assirië.

JESAJA 7:10-17AFR83Maak oop in die Bybelleser

Oral hoor ons die Kersfeesklokke lui, ons sien die wêreld gereedmaak om fees te vier, want die Verlosser is op pad! Ons Heiland is gebore in ’n stal so koud en kil. Ons wag op sy koms. Ons wag dat Immanuel moet kom om ons te verlos! Watter vreugdeboodskap!

’n Belofte wat meer as sewe eeue voor Christus se koms reeds aan koning Agas gegee is. Maar koning Agas wou nie hierdie belofte van God se teenwoordigheid aanneem nie. Uit die geskiedenis is dit duidelik dat Agas nie ’n Godvresende man was nie. En God sien dit en tree in. God het beloof dat daar ’n Koning uit die geslag van Dawid altyd op die troon sou wees. Dat die Een wat hierdie volk sou verlos, ook uit die geslag van Dawid sou voortspruit. Agas moes net vir ’n teken vra ter bevestiging daarvan! Tog het Agas geweier. Israel se soewereine God sou self vir Agas en die huis van Dawid ’n teken gee dat Hy met sy mense was, selfs al het die koning versuim om vir ’n teken te vra.

Die punt is egter dat die geboorte van die Kind die bevestiging vir Agas was dat God by hom sou wees (Immanuel) en dat God Agas se leërmag sou versterk. Op hierdie punt gaan dit nie soseer oor wie die Kind is of was nie, maar eerder God se bedoeling met die profesie en die belofte van God se teenwoordigheid by sy volk. Dat God in die mens se gebeure ingryp en die mens daar verlos. Dit gaan nie soseer oor die Messias, soos die profeet Jesaja dit voorspel het nie, eerder oor die feit van God se teenwoordigheid.

Dit is immers die boodskap van Advent: dat God ingryp in die mens se omstandighede en teenwoordig bly ondanks ons pogings om afstand te skep. Want God is getrou. Hy is Immanuel.

Ds Quinten Schimper, Krugersdorp/Krugersdorp-Wes

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS