Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 5 Oktober

’n Nuwe mens

Bybelteks(te)

2 KORINTIËRS 5

14Die liefde van Christus dring ons, omdat ons tot die insig gekom het dat een vir almal gesterwe het, en dit beteken dat almal gesterwe het. 15En Hy het vir almal gesterwe, sodat dié wat lewe, nie meer vir hulleself moet lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en uit die dood opgewek is.

16Ons beoordeel dus van nou af niemand meer volgens menslike maatstaf nie. Al het ons Christus vroeër volgens menslike maatstaf beoordeel, nou beoordeel ons Hom nie meer so nie. 17Iemand wat aan Christus behoort, is 'n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. 18Dit alles is die werk van God. Hy het ons deur Christus met Homself versoen en aan ons die bediening van die versoening toevertrou. 19Die boodskap van versoening bestaan daarin dat God deur Christus die wêreld met Homself versoen het en die mense hulle oortredinge nie toereken nie. Die boodskap van versoening het Hy aan ons toevertrou.

2 KORINTIËRS 5:14-19AFR83Maak oop in die Bybelleser

Paulus praat in vers 17 van ’n nuwe mens. Waaruit kan die nuutheid tog bestaan? Alles lyk by baie van ons Christene so gewoon! Moet daar dalk by ons die hunkering wees na die buitengewone belewenisse waarvan party geloofsgroepe getuig? Nie volgens die teks nie. Ons is nuwe mense omdat die liefde van Christus ons dring, by ons beheer oorgeneem het. Hoe? Deur die insig dat almal saam met Christus gesterf het. As ons besef dat Hy dit vir ons gedoen het, dat daardie liefde vir ons bedoel is, het ons deel gekry aan sy dood en opstanding. Dan leef ons nie meer vir onsself nie en dink ons anders oor alles.

Ons kennis, ons beoordeling van almal en alles, is anders, nie meer volgens menslike maatstaf nie. Christus is nie meer ’n wonderdoener, bevryder, volksheld nie, maar die gekruisigde wat Homself oorgegee het sodat vryspraak en ware vrede moontlik kon word. As ons deur Christus se liefde beheer word, sien ons onsself ook anders. Van nature vergelyk ’n mens jouself met ander, en in die proses onder- of oorskat jy jouself. As jy jouself sleg maak, skep jy ’n vyand wat voed op jou energie, jou verlam en van jou ’n verloorder maak.

Aan die ander kant is dit moontlik om ’n beeld voor te hou van wie jy nie is nie, en wat lewensmoegheid en soveel spanning kan skep. Die nuutheid kom ook na vore in die beoordeling van ander mense: om gereeld fout te vind en te veroordeel word minder, en om te vergewe en te troos word makliker, met die innerlike vrede wat dit meebring. Ook die siening van omstandighede is anders, soos dat daar ’n besondere krag in jou na vore kom selfs in moeilike tye. Volgens Victor Frankl is die grootste revolusie van ons geslag die ontdekking dat ’n mens sy uiterlike lewe kan verander deur sy gesindheid te verander.

Dr Piet (PJ) van Staden, Emeritus

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS