Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 3 Oktober

Die nuwe lig

Bybelteks(te)

2 KORINTIËRS 4

Die apostels verkondig Jesus Christus, die Here

1God het Hom oor ons ontferm en hierdie bediening aan ons opgedra. Daarom word ons nie moedeloos nie. 2Ons vermy praktyke wat nie die lig kan verdra nie en waaroor ons ons sou moes skaam. Ons gaan nie met bedrog te werk nie en ons vervals nie die woord van God nie. Inteendeel, ons maak die waarheid openlik bekend en beveel onsself so aan by elkeen wat voor God 'n eerlike gewete het. 3As die evangelie wat ons verkondig, tog nog met 'n sluier bedek is, is dit bedek net vir dié wat verlore gaan. 4Hulle is die ongelowiges wie se verstand deur die god van hierdie wêreld verblind is, sodat hulle die lig van die evangelie nie kan sien nie. Dit is die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is. 5Ons verkondig nie onsself nie, maar Jesus Christus as die Here, en onsself as julle dienaars ter wille van Jesus. 6God wat gesê het: “Laat daar lig skyn uit die duisternis,” het ook in ons harte 'n lig laat skyn om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God, wat van Jesus Christus uitstraal.

2 KORINTIËRS 4:1-6AFR83Maak oop in die Bybelleser

Paulus word nie moedeloos nie en hou positief aan om te verkondig ten spyte van weerstand van teenstanders wat hom aanhoudend afkraak. Hy kan met ’n skoon gewete aanhou, want hy verkondig nie homself nie; hy is ’n dienskneg wat Christus verkondig. Hy kan die lig van Christus se heerlikheid wat in sy hart tuisgekom het, uitstraal. Hy kon gedink het aan die verstommende ervaring op die pad na Damaskus toe die verblindende lig hom neergevel en sy hele lewe van binnekant af verander het. Sy belewenis daarvan was soos ’n nuwe skepping. Dieselfde God wat aan die begin van alles lig gemaak het, het ook in sy lewe ingegryp! Soos God met die skepping die donker laat verdwyn het om lewe moontlik te maak, het daar in Paulus se lewe ook ’n wonder plaasgevind deur die geestelike lig wat die donker van vrees en sinloosheid weggeneem het.

Dit is sy grootste begeerte dat meer mense daardie wonderwerk in hul eie lewens kan ontdek. Deur die evangelie word dit moontlik dat die lig van die heerlikheid van Christus mense van binne af kan verander. Lewens kan dan ook na buite verander om al meer beeld van God te wees, soos wat ’n mens oorspronklik bedoel is, en al meer in Christus se voetspore volg. Dit is wel moontlik dat daar ’n sluier kan wees wat ’n mens siende blind maak vir God se lig. Dit kan egter nie ’n hindernis wees om met geesdrif lig te laat skyn nie.

In hoe ’n mate kan jy getuig van daardie lig wat in jou hart tuisgekom het, die lig wat die donker van vrees en sinloosheid wegneem? Verander die glans daarvan jou so dat dit die lewe van ander wat met jou te doen het, beïnvloed? Het die evangelie die sluiers in jou lewe so weggeneem dat die beeld van Christus al meer in jou verskyn deur meer te kan vergewe en nederig te wees?

Dr Piet (PJ) van Staden, Emeritus

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS