Dagboek 2021 – 3 April
Die spanning van die tussentyd
Bybelteks(te)
MATTEUS 27
Jesus word begrawe
Die graf word bewaak
Jesus het sy laaste asem die Vrydagmiddag uitgeblaas. Josef van Arimatea het by Pilatus toestemming gekry om die liggaam te begrawe voordat die sabbat met sononder aanbreek. Dit is ironies dat hierdie Josef, en nie een van Jesus se binnekring van dissipels nie, Hom gaan begrawe. Hy doen dit met waardigheid deur die liggaam in skoon linne toe te draai en in ’n nuwe graf te begrawe. Weer eens met twee vroue as getuies – nog eens ’n stukkie ironie.
Jesus Christus, ons Here, het gely, is onder Pontius Pilatus gekruisig, het gesterwe, is begrawe. Die groot, swaar klip word voor die graf gerol. Sy laaste getroue volgelinge verlaat die toneel. En nou? Wat nou?
Die Joodse leiers tree op. Hulle weet watter aansprake Jesus gemaak het toe Hy nog geleef het: Na drie dae sal Ek uit die dood opgewek word. Daarom vra hulle dat Pilatus ’n wag uitplaas om die graf te bewaak. Pilatus voorsien aan hulle die wag en hulle verseël die graf. Maar daardeur word die spanning eintlik net verhoog. Die Jode ken immers talle verhale oor vroom mense wat, soos Daniël van ouds, deur God uit streng bewaking gered is. Jesus is dood, maar die hoop beskaam nie…
Die spanning tussen Jesus se begrafnis die Vrydag en sy opstanding die Sondag is soos die spanning tussen Jesus se eerste koms en sy wederkoms. Die kerk van Jesus Christus op aarde leef in hierdie spanningsvolle tyd – ons weet wat gebeur het en nou hoop ons op die vervulling van sy beloftes. Al kan ons Hom nie nou sien nie, en al doen ander mense wát om Hom weg te hou uit ons wêreld.
Ja, daar is genoeg mense wat op allerlei maniere wil ontken dat Jesus leef. Maar ons, die kerk van die Here op aarde, waar is ons? Swyg ons, vlug ons wanneer mense ons Here belaster? Of is ons getroue getuies wat waak, bid, en die nuwe lewe wat God skep, verwag? Ook in ons eie lewens?
Dr Wouter van Wyk, Sinodaal