Dagboek 2021 – 2 April
Spot met ’n magtelose
Bybelteks(te)
MATTEUS 27
Die soldate bespot Jesus
Jesus word gekruisig
Op Goeie Vrydag fokus ons gewoonlik op Jesus se sterwe, want dit hou vir ons soveel betekenis in. Maar sy sterwe is voorafgegaan deur intense lyding, bowenal intense vernedering. Nadat Jesus deur die skare verwerp en deur die Romeinse goewerneur Pilatus ter dood veroordeel is, word Hy aan soldate oorgegee. Hulle slaan Hom met swepe en gebruik die geleentheid om met Hom te spot. Hulle trek vir Hom ’n pers mantel aan, stamp ’n kamtige kroon van doringtakke op sy kop, en stop ’n stok in sy hand. Hulle koggel Hom, spoeg en slaan Hom.
By die kruis slaan hulle ’n spottende bordjie bokant sy kop vas wat lees: Dit is Jesus, die koning van die Jode. Die verbygangers en die Joodse leiers sluit daarby aan: Hy is mos die koning van Israel! Laat hy nou van die kruis afkom en ons sal in hom glo. Ja, selfs die twee rowers saam met Hom spot Hom. Die wêreld spot nou al twee duisend jaar met Hom. Die Seun van die Almagtige? So magteloos? Nee wat, nie vir my nie! En die wêreld spot met die mense wat in Hom glo: Naïef! Vroom! Skynheilig!
Hoekom laat God mense van die begin van die skepping af toe om teen Hom te kies? Omdat Hy ons só geleentheid gee om vír Hom te kies. Hy maak Homself weerloos, omdat Hy ons steeds op ons lewenspad begelei en nooit die werk van sy hande laat vaar nie. Omdat Hy weet dat Hy uiteindelik óns opstandigheid in die opstanding van sy Seun oorkom het. Wanneer mense ons skeef aankyk of meerderwaardig afmaak omdat ons glo, moet dit ons nie ontmoedig nie. Wanneer mense vuur spoeg teen die Here of sy kerk, moet ons nie oordeel nie. Nog minder met ’n vloek antwoord.
Jesus het nie sy spotters geantwoord nie. God het hulle geantwoord… op Opstandingsondag. Net so antwoord God die spotters van ons dag mettertyd. Terwyl Hy die tussentyd as genadetyd gebruik totdat elke tong erken: Jesus Christus is Here! (Fil 2:11).
Dr Wouter van Wyk, Sinodaal