Dagboek 2021 – 28 Oktober
Die Here is Koning oor my tyd
Bybelteks(te)
PREDIKER 3
Elke ding het sy vaste tyd
Wanneer ons praat oor tyd en geloof, dink die meeste mense dadelik aan Prediker 3. Daar is egter meer as 400 verse in die Bybel wat die woord tyd bevat.
Tyd is vandag steeds ’n belangrike tema. Hoeveel keer hoor ons nie hierdie woorde nie: Daar is nie genoeg tyd nie. Daar is egter baie dinge wat ons tyd in beslag neem. Sosiale media en tegnologie is seker twee van die bekendste skuldiges. Ander is films, TV-reekse, speletjies, boeke en sport. Dit alles kan die beperkte hoeveelheid tyd in ’n dag gou vul.
Tog is elke sekonde ’n genadegawe vanuit die Here se hand. Boonop belowe die Here aan elkeen van sy kinders die ewige lewe. Daarom is dit soveel meer belangrik om tyd aan ons geloof te bestee. Tyd wat ons aan ons geloof bestee, is ’n ewigheidsbelegging
Prediker noem dat daar ’n spesifieke tyd vir alles in hierdie lewe is. Daar is byvoorbeeld ’n tyd om te werk en ’n tyd om te rus. Net so is daar ’n tyd om gemaklik te wees en ’n tyd om in geloofsgroei te belê.
Ons moet tot die besluit kom om tyd aan ons verhouding met die Here te bestee. Tyd om eredienste by te woon, tyd om huisgodsdiens te beoefen en tyd om te bid, en om deel te neem aan gemeentelike aktiwiteite.
Altyddeur bly ons bewus van die ewigheid waarna ons uitsien. Ewigheid waar ons nie deur tyd gebind sal wees nie, maar vir ewig saam met God sal wees.
Mag die uiteindelike doelwit vir jou wees om nie net ’n spesifieke tyd vir God uit te hou nie, maar om die Here deel te maak van elke tyd in joulewe. Die Here behoort deel van elke tyd van ons lewe te wees.
Gebed
Here, wees U asseblief die Koning van my tyd. Amen.
Ds Michael Müller, Klerksdorp-Wilkoppies