Dagboek 2021 – 27 Oktober
Die Here is Koning oor my werk
Bybelteks(te)
KOLOSSENSE 3
Dit voel vreemd om te erken dat die Here Koning oor my werk behoort te wees. Tog is dit ’n bekende tema in die Woord van God. Die Bybel plaas sterk klem op werk. Ons moet werk. Ons moet voorsien in ons eie en ons geliefdes se behoeftes. Ons kan nie net agteroor sit en lui wees nie. Daarteen waarsku die Bybel.
Reg van die begin af moes mense hard werk. Nadat Adam en Eva uit die tuin van Eden verban is, moes hulle hard werk om te oorleef. So werk ons steeds vandag, sommige selfs na aftrede nog. Min mense kan bekostig om nie te werk nie. Selfs sommige gemeentes moet met harde werk en gemeentelike funksies ’n bestaan maak.
Solank ons net onthou dat ons ons werk doen asof ons dit vir die Here doen, is ons gesindheid reg. Ook wanneer ons dit uit liefde doen, dus om verantwoordelikheid vir onsself en ander te neem. Om te werk, is ’n voorreg waarvoor ons die Here dank, al is dit soms moeilike werk of al het ons dalk ’n onredelike werkgewer.
Werk met ’n opregte hart, dus doen eerlik jou bes. Nie sodat mense ons raaksien nie, maar omdat God ons raaksien. Doen dit vir die Here en sodat jy kan voorsien en aanhou voorsien. Daarmee sal die Here tevrede wees. Waak daarteen om te werk bloot vir selfverryking. Wees tegelyk diensbaar aan God. So word dit koninkrykswerk. Vra jouself gereeld of die werk wat jy doen, gedoen word asof jy dit vir die Here doen. Is die Here Koning oor jou werk?
Gebed
Here, help my om altyd my werk so te doen dat dit tot u eer en u verheeliking mag wees. Amen.
Ds Michael Müller, Klerksdorp-Wilkoppies