Dagboek 2021 – 27 Augustus
God oorwin, al lyk dit nie nou so nie
Bybelteks(te)
1 SAMUEL 5
Die Here tref die Filistyne
Voor elke oënskynlike nederlaag van die wêreld, wanneer die beheer of die mag uit ons hande geneem word, roep ons maklik uit: Gaan haal die ark! Net soos Pinehas se vrou kan ons vra: Waar is die eer? Daar is nie, want God is nie ’n gelukbringer nie, Hy is nie ’n God in ’n houer nie! Hy word nie vasgevang in die ark nie, maar is groter as die ark, selfs groter as my en jou boksies. Die Filistyne neem die ark na hul afgod Dagon se tempel. Plaas die ark dan voor Dagon as ’n trofee! Om vir die wêreld te wys dat die God van Israel (Jhawe) eintlik net ’n boks is. Dagon is sterker!
God staan stewig voor die aanslag. Hulle tel hul god op. Dit klink nie reg nie. Die tweede dag lyk dit of Dagon in ’n ritueel tereggestel is. Sy hande en kop afgebreek. Die boodskap: Dié god kan nie dink of my vashou nie (doen nie). Selfs in ’n oënskynlike nederlaag is God die oorwinnaar! Ons sien dieselfde in die Nuwe Testament. Dit is God wat Homself laat vang het in die tuin van Getsemane. Hy was verneder (vergelyk ook Fil 2) tot in die dood, ja die dood aan die kruis. ’n Absolute nederlaag! Ikabod! Waar is die eer? Soos ’n trofee is Hy in die tempel van die doderyk geplaas.
En op die eerste dag (Vrydag) het die dood vooroor geval. Op die tweede dag (Saterdag) het die dood se kop en hande afgebreek – Dood, wat kan jy aan my doen? En op die derde dag (Sondag), toe hulle Hom wou balsem, het die mense besef: dat selfs die tempel van die dood verander het in die tempel van die lewe!
Oorwinning behoort aan God! Ek en jy deel hierin in ons verhouding met Hom. Elke knie sal buig en elke tong erken! Ons Here is verhoog tot die hoogste eer!
Dr Hein Delport, Swartkop