Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 24 Mei

God kom na ons van die begin af

Bybelteks(te)

GENESIS 3

6Toe besef die vrou dat die boom se vrugte goed is om te eet en mooi om na te kyk en begeerlik omdat dit kennis kan gee. En sy het van sy vrugte gepluk en geëet. Sy het ook vir haar man by haar gegee, en hy het geëet. 7Hulle altwee se oë gaan toe oop, en hulle besef dat hulle kaal is. Toe werk hulle vyeblare aanmekaar en hang dit om vir klere.

8Hulle het gehoor hoe die Here God in die tuin wandel teen die tyd dat die aandwind opkom, en die mens en sy vrou het vir die Here God weggekruip tussen die bome van die tuin. 9Maar die Here God het na die mens geroep en vir hom gevra: “Waar is jy?”

10En die mens antwoord: “Ek het U hoor wandel in die tuin en ek het bang geword, want ek is kaal. Toe het ek weggekruip.”

GENESIS 3:6-10AFR83Maak oop in die Bybelleser

GENESIS 9

8Verder het God vir Noag en sy seuns gesê:

GENESIS 15

Die Here sluit 'n verbond met Abram

1Hierna het die woord van die Here in 'n gesig tot Abram gekom:

“Moenie bang wees nie, Abram,

Ek beskerm jou!

Jou beloning sal baie groot wees.”

2Toe sê Abram: “Here my God, wat kan U vir my gee? Ek sal kinderloos sterf, en Eliëser die man uit Damaskus sal my besittings kry.”

3Abram het verder gesê: “U het nie vir my 'n nageslag gegee nie. 'n Slaaf uit my huis sal my erfgenaam wees.”

4Maar die woord van die Here het tot Abram gekom: “Daardie een sal nie jou erfgenaam wees nie. Een wat jou eie nasaat is, hy sal jou erfgenaam wees.”

5Toe het die Here vir Abram buitentoe laat gaan en vir hom gesê: “Kyk op na die hemel en tel die sterre as jy kan.” Verder sê die Here vir hom: “So baie sal jou nageslag wees.”

6Abram het toe in die Here geglo, en die Here het dit goedgevind dat Abram so volgens die wil van die Here gehandel het.

7Hy het vir Abram gesê: “Ek is die Here wat jou uit Ur van die Galdeërs laat wegtrek het om hierdie land aan jou te gee as jou besitting.”

8Maar Abram vra: “Hoe sal ek weet dat ek dit sal besit, Here my God?”

9Toe beveel die Here hom: “Bring vir My 'n vers, 'n bok en 'n skaapram, almal drie jaar oud, en 'n tortelduif en 'n jong duif.”

10Abram het dit alles vir die Here gebring en dit middeldeur gesny. Hy het elke helfte teenoor die ander helfte neergesit. Die voëls het hy nie verdeel nie. 11Die roofvoëls het op die karkasse begin toesak, maar Abram het hulle weggejaag.

12Teen sononder het 'n diep slaap Abram oorval; angs, 'n groot donkerte het hom oorweldig. 13Toe sê die Here vir Abram: “Weet beslis dat jou nageslag vreemdelinge sal wees in 'n land wat nie aan hulle behoort nie. Daar sal hulle slawe wees en onderdruk word, vier honderd jaar lank. 14Maar Ek sal die nasie straf wat van jou nageslag slawe maak, en dan sal hulle met baie besittings wegtrek. 15Jy sal in vrede sterf en op 'n hoë ouderdom begrawe word. 16Die vierde geslag ná jou sal hiernatoe terugkom. Dan eers sal die ongeregtigheid van die Amoriete sy volle maat bereik het.”

17Toe die son ondergegaan het en dit donker was, gaan daar skielik 'n oond wat rook en 'n fakkel wat brand, tussen die stukke vleis deur.

18Op daardie dag het die Here 'n verbond gesluit met Abram en vir hom gesê:

“Aan jou nageslag gee Ek hierdie land,

van Egiptespruit af tot by die Eufraat, die groot rivier;

19die land van die Keniete, die Kenissiete en die Kadmoniete,

20die Hetiete, die Feresiete en die Refaïete,

21die Amoriete, die Kanaäniete, die Girgasiete en die Jebusiete.”

EKSODUS 3

4Toe die Here sien dat hy nader kom om te kyk, roep God na hom uit die doringbos: “Moses! Moses!”

En hy antwoord: “Hier is ek.”

Adam en Eva se verhaal vertel dat God hulle gemaak en toe hul teenwoordigheid opgesoek het. Genesis 1: 26-28 sê God het hierdie twee mense gemaak en Hy het besluit om hulle sy verteenwoordigers te maak. Hy het hulle geseën, en hulle laat heers oor die vis, voëls en diere wat Hy gemaak het.

En as God dan sy verteenwoordigers, sy mense opsoek, lees ons in Genesis 3: 6-10: God het na die tuin gekom in die tyd dat die aandwind opkom, Hy het na die mense toe gekom, Hy het hulle gesoek en geroep: Waar is julle? Maar die mens moes antwoord: Here God, ek kruip weg vir U; ek is bang, want ek het agtergekom ek is kaal!

God kom soek na ons, maar ons kruip weg, ons is kaal en skaam – voor Hom staan ons sonder vertoon, met al ons skaamte en sonde en onvolmaakte lewe oop en bloot voor Hom.

Maar God hou nie op om na mense toe te kom nie: Ons lees in Genesis 9: 8 dat God vir Noag opsoek om ’n verbond met hom aan te gaan, ’n ooreenkoms waarvan die reënboog die teken sal wees.

En dan lees ons in Genesis 15 van ’n nog belangriker verbond: God se ooreenkoms met Abram. Hy sê: Moenie bang wees nie, Abram, Ek beskerm jou! Ek sal jou God wees, en die God van jou nageslag, Ek gee jou ’n vrugbare land, Ek sal julle God wees.

En so bemoei God Hom ook met Moses, wanneer Hy in Eksodus 3 na hom toe kom en hom roep: Moses! Moses! Ek is die God van jou voorvaders… En God en Moses se gesprek gaan aan: God sê vir Moses… En Moses sê vir God… Hulle praat elke dag met mekaar soos mense wat mekaar goed ken.

God kom na ons toe, van Genesis af tot vandag. Is jy gereed om Hom te ontmoet?

Ds Milankie van der Walt, Namib-Suid

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS