Dagboek 2021 – 23 Mei
Here, naby U, dis waar ek hoor...
Bybelteks(te)
1 KONINGS 19
1 SAMUEL 3
Die eerste openbaring aan Samuel
Hoe hoor ons God in ons lewe? Is hy vir ons hoorbaar met ’n fisiese stem, of het ons dalk geestelike ore wat “God se stem” gelei tot binne-in ons wese?
’n Halfeeu gelede is die Franse spesialis dr Alfred Tomatis gekonfronteer met die vreemdste geval van sy loopbaan. ’n Bekende operasanger het op ’n misterieuse manier sy vermoë verloor om sekere note te kan sing. Ander spesialiste het gemeen dat dit ’n stembandprobleem was. Dr Tomatis het verskil. Met behulp van ’n sonometer het hy vasgestel dat hierdie operasanger 140 desibels in klankgolwe op ’n afstand van een meter voortbring. Sy ore was net enkele sentimeters van sy oorverdowende stem af. Die operasanger is doof gemaak deur die geraas van sy eie stem. Omdat hy nie die noot kon hoor nie, kon hy nie meer die noot sing nie. In Tomatis se woorde: Die stem kan net weergee wat die oor kan hoor.
Almal van ons, sonder enige uitsondering, het probleme. Ons dink die probleme wat ons ervaar, is die probleem, maar dalk is hierdie probleme net die simptome. Die wortel van die kwaad en die oorsaak van ons probleme is ’n geestelike Tomatis-effek — ore wat vir die stem van God doof geraak het.
Dit is ons eie negatiewe stem wat God se stem stil praat. Dit is die stem van kritiek wat jy so dikwels gehoor het, vir so lank dat jy niks meer van jouself kan glo nie. Dit is die stem van wees-soos-jou-omgewing, pas aan en stem in met jou omgewing, die stem van kultuur! Daar is die stem van veroordeling. As jy na hierdie leuens van stemme gaan luister, sal dit jou doof maak vir die stem van God. En as jy sy stem nie kan hoor nie, kan jy nie sy lied sing nie.
Mag ons soos Samuel in ’n bepalende oomblik dié dapper gebed bid as God ons roep: Praat, Here, u dienaar luister! (1 Sam 3: 10).
Ds Jimmy Manders, Witfontein