Dagboek 2021 – 24 April
God se môre is beter as my gister
Bybelteks(te)
JOHANNES 14
Die Heilige Gees sal by julle bly
Neem ’n oomblik en dink: Waar sal jy oor vyf jaar wees? Oor 20 jaar? En jou kinders? Hoe sal dit met hulle gaan? Sal alles uiteindelik onder die misdaadgolf verdwyn? Sal my spaargeld hou? Sal my pensioenskema my kan deurdra tot die einde toe? En die Kerk? Sal daar nog lidmate wees? En die aarde waarop ons lewe, hoe sal dit lyk in die jare wat kom? Dalk uitgebrand?
Johannes 14 vertel van ’n groepie mense wat in ongeveer 33 nC ook oor die toekoms gewonder het. Hulle het ’n tyd lank intiem saam met Jesus gelewe. Volgens Johannes 14 is hulle egter bekommerd oor die toekoms. Jesus het aangekondig dat Hy weggaan en hulle wonder: Wat dan? Waaraan sou hulle dan kon vashou? In Johannes 14 leer Jesus hulle en vir ons dat Hy as hul Voorspraak, Vriend en Helper oënskynlik sal weggaan, maar dat Hy tot hul voordeel ’n ander Voorspraak, Helper en Trooster sal stuur (vers 17). Dan moet hulle weet: Jesus is weg en tog is Hy nie weg nie; Hy is nie meer hier nie en tog is Hy hier!
Augustinus, die ou kerkvader, het hieroor gesê: U het voor ons oë opgevaar en ons het hartseer omgedraai, net om U in ons hart te ontdek. Jesus se belofte voor sy hemelvaart was: Ek is by julle tot die voleinding van die wêreld. Ons vra: Wat hou die toekoms vir ons in? Ek weet nie, u weet ook nie, niemand weet nie. Een ding weet ons wel. Die toekoms hou die Trooster in, want die Trooster hou die toekoms in sy hande. Met die Trooster gaan ons die toekoms tegemoet. Jesus se belofte is: Ek is by julle… dit beteken gister, vandag, môre vir ewig dieselfde! Hy is by jou!
Ja, voor ons lê ’n toekoms. Baie dinge het al verander en baie dinge sal nog verander. Maar een ding sal dieselfde bly. Die Here is by ons, in ons en met ons.
Dr Christo van der Merwe, Emeritus