Dagboek 2021 – 23 April
Vredemakers
Bybelteks(te)
JOHANNES 20
Jesus verskyn aan sy dissipels
Jesus en Tomas
MATTEUS 5
Lees ’n mens die Evangelies, is dit opvallend hoedat die begrip vrede soos ’n goue draad daardeur loop. Jesus se eerste preek gaan daaroor, sy hele bediening gaan oor vrede, so ook sy eerste woorde na sy opstanding. Kyk ons egter na die wêreld om Hom, is vrede nêrens te bespeur nie. Vat byvoorbeeld die kruisgebeure. Jesus sterf ’n gewelddadige dood. En later ook sy dissipels. Hy groet hulle met: Vrede vir julle. Volgens oorlewering sterf elkeen van hulle egter ’n marteldood in die een of ander vorm.
Kyk ’n mens na die wêreld waarin ons lewe, sien ons ook maar min van vrede. Wat jy sien, is stryd, konflik en oorlog. Onvrede het, hoe jammer ook al, kenmerkend van ons land geword. In plaas van vrede, is daar onrus, opstande en geweld. En so dikwels is onvrede ook kenmerkend van ons eie verhoudings, ons huwelike, gesinne, families, en hoe hartseer ook al dikwels ook van die kerk.
Waar is die vrede waarvan Jesus praat? Johannes 14: 27 gee vir ons die sleutel. Jesus sê die vrede wat Hy bring, verskil van die aardse vrede wat die Jode verwag het en wat die mens dikwels idealiseer. Die vrede wat Jesus bring, is vrede tussen God en mens. Sonde het disharmonie, onvrede gebring tussen God en mens en tussen mense. Op Golgota bring God versoening tussen Hom en ons. Ons kry daaraan deel sonder dat ons dit verdien. Dit is God se genadegeskenk. Op grond daarvan is daar is nou vrede tussen God en ons en kan daar vrede in ons gemoed wees. Daarom kan dit nie anders nie, ons moet nou daardie vrede leef deur vredemakers te wees.
Om God se vrede te leef, begin by jou! Jy moet nou daardie vrede leef, in jou eie huis – trouens, in elke verhouding waarin jy betrokke is. En dis belangrik, want Jesus het gesê: Waar gelowiges as vredemakers leef, sal God en ook die wêreld hul kinders van die hemelse Vader noem, en so word God verheerlik.
Dr Christo van der Merwe, Emeritus