Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 21 November

Haggai… skep moed

Bybelteks(te)

HAGGAI 2

My Gees sal altyd by julle bly

1Op die een en twintigste van die sewende maand, in die tweede regeringsjaar van koning Darius, het die woord van die Here weer deur die profeet Haggai gekom: 2Vra tog vir Serubbabel, seun van Sealtiël en goewerneur van Juda, en vir die hoëpriester Jesua seun van Josadak, en vir almal wat van die volk oorgebly het: 3Wie van julle het gesien hoe mooi die vorige tempel was? Hoe lyk dié een vir julle? Lyk hy nie na niks in vergelyking met die vorige nie?

4Maar nou, Serubbabel, skep moed, sê die Here, en jy Jesua seun van Josadak, hoëpriester, skep moed, en julle almal, burgers van die land, skep moed, sê die Here! Begin met die werk, want Ek is by julle, sê die Here die Almagtige. 5My belofte wat Ek met die uittog uit Egipte aan julle gemaak het, sal Ek nakom: my Gees sal altyd by julle bly. Moenie bang wees nie!

6So sê die Here die Almagtige: Nog een keer, binnekort, sal Ek hemel en aarde, see en land laat bewe. 7Dan sal Ek al die nasies laat wakker skrik en hulle sal met hulle skatte kom en so sal Ek hierdie huis met rykdom vul, sê die Here die Almagtige. 8Aan My behoort al die silwer, aan My al die goud, sê die Here die Almagtige. 9Die roem van die tempel sal in die toekoms groter wees as in die verlede, sê die Here die Almagtige. Op hierdie plek sal Ek vrede gee, sê die Here die Almagtige.

HAGGAI 2:1-9AFR83Maak oop in die Bybelleser

Na die ballingskap beleef die volk moeilike omstandighede in hul land met droogte, misoeste en vyandelikhede van die buurvolke. Die volk vra die profeet Haggai waarom die Here hulle nie help en uitkoms gee nie.

Toe het die woord van die Here deur die profeet gekom: Is dit nou die tyd vir julle om in pragtige huise te woon terwyl my huis in puin lê? (1:4). Haggai wys verder daarop dat dit met die volk nie goed sal gaan nie alvorens die Here weer ’n “woonplek” het om na terug te keer. Hoe sou hulle kon verwag dat dit met hulle goed gaan terwyl die huis van die Here in puin lê? Haggai sê vir die volk: Die Here is by julle. Hierdie woorde het die volk met ontsag vervul en hulle het die bouwerk aangepak (1:14).

Haggai beklemtoon dat die Here eerder wil seën as om te oordeel. Haggai lê klem op gehoorsaamheid aan die Here teenoor die najaag van eie belang. Hierdie gehoorsaamheid word geopenbaar in praktiese dade soos die herstel van die huis van die Here, die opgaan na die huis van die Here en die luister na die woord van die Here.

Later het die woord van die Here weer deur Haggai gekom. Die volk word daarop gewys dat hierdie herboude tempel nie naby die prag van Salomo se tempel kom nie. Nogtans verseker die Here die koning, die hoëpriester en die volk: Skep moed! Begin met die werk, want Ek is by julle, sê die Here (2:4). Die Here bevestig opnuut die belofte wat Hy gemaak het tydens die uittog uit Egipte: …my Gees sal altyd by julle bly. Moenie bang wees nie! (2:5).

Terwyl ons besig is met die laaste dinge voordat ons die koms van Jesus herdenk, het ons steeds rede om rustig te volhard in ons diens aan die Here. Hoe moeilik ons omstandighede ook al mag wees, die oproep van Haggai bly steeds geldig: Skep moed, want my Gees is altyd by julle. Moenie bang wees nie! Ek sal aan julle vrede gee, sê die Here.

Dr Frans Boshoff, Emeritus/Chrissiesmeer

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS