Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 20 November

Sefanja… die dag van die Here

Bybelteks(te)

SEFANJA 3

Ek gee aan julle roem en eer

14Sing, Sion! Juig, Israel!

Wees met alles wat jy is, vrolik en bly, Jerusalem!

15Die Here het 'n einde gemaak aan jou straf,

Hy het jou vyande laat padgee.

Die Koning van Israel, die Here, is by jou;

jy hoef geen ramp meer te vrees nie.

16Daardie dag sal daar vir Jerusalem gesê word:

Moenie bang wees nie, Sion,

moenie jou hande moedeloos laat hang nie!

17Die Here jou God is by jou,

Hy, die krygsman wat red.

Hy is vol vreugde oor jou,

Hy is stil-tevrede in sy liefde.

Hy jubel en juig oor jou:

18Ek maak dié bymekaar wat treur,

ver van die feestelikheid af,

dié wat uit jou uit kom

en ter wille van jou die smaad gedra het.

19Ek gaan nou optree teen almal wat jou verdruk het,

Ek gaan die kreupeles help,

die verstrooides bymekaarmaak

en die vernedering wat hulle moes ondergaan,

in eer verander, in roem oor die hele aarde.

20Wanneer die tyd daar is, laat Ek julle kom,

maak Ek julle bymekaar

en gee Ek aan julle roem en eer

onder al die volke op aarde;

dit is die tyd wanneer Ek julle lot verander,

julle sal dit met julle eie oë sien, sê die Here.

SEFANJA 3:14-20AFR83Maak oop in die Bybelleser

Hierdie tyd in die kerkjaar is bekend as eskatologie. In die kerk word nou nagedink oor wat gebeur het in die laaste tyd vóór Jesus se eerste koms na die wêreld. Profete het telkens die volk vermaan om hulle te bekeer, want die dag van die Here is naby.

Die profeet Sefanja praat herhaaldelik van hierdie dag. Dramaties roep hy die volk op: Wag in stilte op die Here God! Die dag van die Here is naby! (1:7). Sefanja word al dringender as hy herhaal: Die groot dag van die Here is naby, baie naby, dit kom gou (1:14). Hy beskryf die dag as ’n dag van toorn, benoudheid, storms, verwoesting, donkerte, swaar onweer (1:15). Hy verseker die volk dat niks, nóg silwer nóg goud, hulle sal kan red op daardie dag wanneer die toorn van die Here losbreek nie (1:18).

Sefanja troos die volk. Daar is dalk ’n kans op genade: Ruk julle reg vóórdat die dag kom (2:1). Vra na die wil van die Here … Miskien bly julle die straf gespaar op die dag van die Here (2:3). Die “miskien” het werklikheid geword, want die Here hét in genade besluit: Ek sal in jou laat oorbly dié wat vertrou op my Naam (3:12). Soos dikwels, gaan die oordeel gepaard met die belofte van uitkoms. Vir almal is die voorwaarde dieselfde: om nie onreg te doen nie, (3:13), maar goed te doen.

Sefanja sluit af met ’n loflied, Sing, Sion! Juig, Israel! (3:14), want die Here maak ’n einde aan die straf. Sion word ’n afbeelding van God se koninkryk waar die nasies die Here se wil doen. Die Here self sal as Koning teenwoordig wees.

Die waarskuwing dat die dag van die Here naby is, het intussen verander in troos en vooruitsig, want daardie dag het reeds gekom. Die genade het werklikheid geword, toe Jesus Christus gebore is in Betlehem. Ons kan uitsien na elke dag van die Here, want die Here het in Jesus Christus na ons toe gekom om ons te kom haal. Laat ons ook juig en sing!

Dr Frans Boshoff, Emeritus/Chrissiesmeer

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS