Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 21 Augustus

’n Dal van doodskadu…

Bybelteks(te)

PSALMS 23

Die Here is my herder

1'n Psalm van Dawid.

Die Here is my herder, ek kom niks kort nie.

2Hy laat my rus in groen weivelde.

Hy bring my by waters waar daar vrede is.

3Hy gee my nuwe krag.

Hy lei my op die regte paaie

tot die eer van sy Naam.

4Selfs al gaan ek deur donker dieptes,

sal ek nie bang wees nie,

want U is by my.

In u hande is ek veilig.

5U laat my by 'n feesmaal aansit,

terwyl my teëstanders moet toekyk.

U ontvang my soos 'n eregas,

ek word oorlaai met hartlikheid.

6U goedheid en liefde sal my lewe lank by my bly

en ek sal tuis wees in die huis van die Here

tot in lengte van dae.

’n Dal is ’n topografiese laagtepunt, ’n depressie, ’n plek waar die grond gesak het. In Psalm 23 leer ons dat Dawid meer bedoel as net ’n topografiese eindpunt, hy bedoel dit juis as ’n emosionele eindpunt. Baie mense was al in hierdie vallei, dalk vir ’n baie lang tyd. Sommige glo dat Dawid die Psalm aan die begin van sy lewe gedig het. As ’n skaapwagter selfs.

Dan is daar dié wat glo dat hy dit ’n bietjie later in sy lewe gedig het. Dit maak nogal vir my sin, veral as ’n mens na die teks kyk en agterkom dat Dawid vir ons hier iets van die lewe leer. So ’n terugblik op die lewe, en dan hierdie wysheid in Psalm 23. Lewenservaring of lewenswysheid. Die Psalm begin so mooi en idillies in vers 1: Die Here is my herder, ek kom niks kort nie… ’n mens kan amper die ligte musiek hoor speel in die agtergrond, so mooi en vredevol is die teks. Maar dan gebeur iets in vers 4. Die Psalm bereik ’n draaipunt.

Wat het gebeur? Die lewe het gebeur. Daar is nie altyd groen weivelde of waters van rus nie. Daar sal ook donker dieptes wees. Daar sal ook dieptes of dale wees. Tog is dit vir baie mense ’n verrassing. Hoe kan dit met my gebeur? Ek verdien dit nie. Een van die grootste besluite in ’n donker diepte is ’n gesindheidsbesluit. Kyk rond in die vallei. Moenie dat hierdie tyd verspilde tyd wees nie. Loop deur die donker diepte en leer daaruit. Jy sien, pyn beweeg jou op twee maniere. Dit breek jou rug, of knak jou knieë vir gebed.

Ons vind God ook in die donker dieptes. Ek sal geen onheil vrees nie, want U is by my (OAV). Hoor jy die verandering van aanspreekvorm in die teks? Die skrywer doen nou ’n belydenis. Wat is jou belydenis in hierdie donker diepte in jou lewe?

Dr Hein Delport, Swartkop

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS