Dagboek 2021 – 20 Mei
Tot daardie dag...
Bybelteks(te)
LUKAS 24
Die hemelvaart van Jesus
Daar is ’n pragtige lied in Engels wat sê: Ek het Hom nie sien opvaar nie, maar ek sal Hom sien wanneer Hy weer kom! Toe Jesus hier op aarde was, het Hy aan ons die ewige lewe belowe. Hy het vir ons sy vrede gegee en gesê: Ek sal julle nie alleen los nie! En al was ons nie daar toe hulle Hom sien opvaar het nie, het twee engele in wit aangekondig: Hy sal weer terugkeer.
Watter ervaring moes dit nie wees nie om Hom daardie dag te sien opvaar in die wolke, om Hom te sien verdwyn? Maar daar wag ’n groter seën as dit op ons, want saam met hulle wat die wolke dophou, kry ons ook die belofte van sy terugkoms. Ons sal sien wanneer Hy in die wolke van heerlikheid weer kom. Ons is verheug daaroor, in opgewonde afwagting en verlangende verwagting op sy wederkoms.
Dit is kritiek belangrik dat ons nie al ons tyd tot daardie dag sal opgebruik om net na die hemele te staar, totdat Hy kom nie. Daar is ook werk om vir Hom te doen, tot daardie dag… Die engele by die hemelvaart vra vir die dissipels in Handelinge 1:11: Galileërs, waarom staan julle so na die hemel en kyk? Eenvoudig gestel: Daar is werk om te doen en ons moet werk tot daardie dag wanneer Hy terugkeer.
Sy Woord roep ons op vir daardie werk wat gedoen moet word, en belowe aan ons die krag van die Heilige Gees om juis vir ander te vertel wat die Here Jesus vir ons gedoen het. Tot daardie dag moet ons die belofte van sy terugkoms onthou, maar dit moet ons ook nugter hou. Die tyd is kort en die werk is baie! Kom ons hou vas aan die belofte van sy wederkoms, en mag ons “werk” vir Hom tot Hy kom. Tot daardie dag is daar ’n Verlosser om te dien.
Ds Jimmy Manders, Witfontein