Dagboek 2021 – 19 Mei
Geloofs-geheueverlies
Bybelteks(te)
MARKUS 8
Die tweede vermeerdering van die brood
Wanneer jy geheueverlies opdoen, is jy soekend na die waarheid; soekend na wie jy nou eintlik is. Al kan ons almal nou mooi onthou, ly ons dikwels aan ’n eienaardige soort geloofs-geheueverlies. Dit gebeur wanneer ek soveel getuienis en bewyse het dat die Here ongelooflik goed is vir my, en tog in ’n oogwink vergeet wat Hy alles vir my gedoen het.
Vrees kom steel my geloof. Israel het geloofs-geheueverlies gehad, want God se volk moes kort-kort herinner word aan alles wat God reeds vir hulle gedoen het. Jesus se eie dissipels ly kort-kort aan geloofs-geheueverlies, ten spyte daarvan dat hulle Jesus in aksie sien. Ek en jy ly kort-kort hieraan: Dit is waarom ons gereeld Bybel lees, na oordenkings en preke luister – op soek na die Here om juis ontslae te raak van ons geloofs-geheueverlies, om juis weer herinner te word aan wat God al vir ons gedoen het, en ook vir ons wil doen.
Nadat Jesus vir meer as 5 000 mense kos gegee het, het die geleentheid van 4 000 honger mense hom voorgedoen. Ons sien dat Jesus se hart weer eens uitgaan na die mense. Maar sy dissipels reageer: Waar sal ’n mens in hierdie verlatenheid genoeg brood vir hulle kan kry? Hoe kon hulle dit vra? Dit was ’n kort tydjie gelede; kan hulle nie onthou nie? Presies dieselfde situasie, net ’n ander plek. Na al die dinge wat hulle self saam met Jesus gesien en ervaar het, tree hulle op asof Jesus nog nooit in sy ganse lewe ’n wonderwerk gedoen het nie! Geloofs-geheueverlies: Kan hulle nie die vyf brode, twee vissies, 5 000 mense en 12 mandjies oorskiet onthou nie?
Ons is net so. Ons ervaar God se aanraking en wonderwerke in moeilike situasies, en dan slaan geloofs-geheueverlies toe. Ons huidige situasie is so oorweldigend dat ons vergeet hoe God vir ons in die verlede deurgekom het. Mag ons in vertroue vashou aan die Here en in die geloof weet dat God altyd getrou en teenwoordig is, met die vaste vertroue: Hy sal voorsien, soos Hy nog altyd het!
Ds Jimmy Manders, Witfontein