Dagboek 2021 – 14 April
Glo of gefop?
Bybelteks(te)
LUKAS 1
'n Woord aan Teofilus
HANDELINGE 1
Die belofte van die Heilige Gees
Lukas is ’n “joernalis”, en hy het ’n agenda: Teofilus moet sy feite kan vertrou; ooggetuies en Godsmense is sy bron; en Lukas glo self. Jy wat dit lees, so hoop Lukas, sal ook glo Jesus is die Here, en God liefkry.
Lukas skryf geen biografie van Jesus nie: Lukas vertel hoedat God mense in Jesus geleer glo het. Lukas versamel vertellings en herinneringe, skryf woord vir woord oor wat in ander boeke staan (niemand het kopiereg op God nie), rangskik sy feite anders en lewer daarop sy eie kommentaar. Lukas is nie objektief nie: Hy sê hoekom hý glo, en hy vertel die storie van gelowiges. Die tegniese term vir só ’n geskrif is evangelie. Dit sê: Glo in Jesus Christus: Hy is God. Is hierdie evangelie die geloof werd?
Geloof is ’n gawe wat God jou gee wat jy soms wens God het liefs nie. Dis taai. Dat Jesus die Here is, uit die dood uit opgestaan het en lewe, is ’n ongerieflike, moeilike waarheid om te sluk. Media waarmee jy saamstem, is van alle media dié gevaarlikste. Want dan is jy nie meer bedag op hoe jy mislei word nie. En ek is ook nie sonder agenda nie. Ek het júis ’n agenda: Dis ook mý doel dat jy moet glo. Ek is self al te veel gefop om soetkoek te eet. Ek het ’n gesonde agterdog, oor alles. Daarom verstaan ek: Jy ook! Jy kan van kerk tot kerk gaan tot jy die dominee kry wat preek net wat jy wil hoor. Maar dis vir die waarheid dat jy op soek moet gaan, nie musiek vir jou ore nie.
Media- en godsdiensvryheid ís kosbaar, maar nie omdat joernaliste of jobstroosters die waarheid praat nie. Jesus, sy apostels, die Doper en die profete, is almal dood oor die waarheid wat hulle gepraat het: Jesus het opgestaan. Dis die toets; wat jy van Jesus Christus sê en die prys wat jy bereid is om daarvoor betaal.
Ds Hennie la Grange, Kampersrus