Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 13 April

Die Here, ons begin, middel en einde

Bybelteks(te)

PSALMS 23

Die Here is my herder

1'n Psalm van Dawid.

Die Here is my herder, ek kom niks kort nie.

2Hy laat my rus in groen weivelde.

Hy bring my by waters waar daar vrede is.

3Hy gee my nuwe krag.

Hy lei my op die regte paaie

tot die eer van sy Naam.

4Selfs al gaan ek deur donker dieptes,

sal ek nie bang wees nie,

want U is by my.

In u hande is ek veilig.

5U laat my by 'n feesmaal aansit,

terwyl my teëstanders moet toekyk.

U ontvang my soos 'n eregas,

ek word oorlaai met hartlikheid.

6U goedheid en liefde sal my lewe lank by my bly

en ek sal tuis wees in die huis van die Here

tot in lengte van dae.

Dit is nie sonder rede nie dat Psalm 23 een van die bekendste Psalms is. Selfs diegene wat nog nooit die Bybel gelees het nie, sal hierdie Psalm ken deur die gebruik daarvan in rolprente en literatuur. Die bekendheid van die Psalm maak sin as ’n mens dit baie fyn lees en ’n bietjie tyd neem om te sien hoe die digter van sy verhouding met God getuig.

Die Psalm se begin en einde vorm ’n mooi omarming, met die inhoud in die middel daarvan. Hierdie begin en einde word aan mekaar gekoppel deur die gebruik van die Here se Naam en die feit dat daar hier oor en van die Here getuig word. Die skrywer vertel dat die Here die Herder is wat leiding na ’n rusplek bied (Ps 23:1-2), die Een wat nuwe lewenskrag gee en ’n persoon op die pad van geregtigheid lei (Ps 23:3). Aan die einde word weer getuig dat daar in die huis van die Here altyd ’n plek vir die gelowige sal wees (Ps 23:6).

Hierdie getuienis vloei egter nie uit die dinge wat die skrywer oor en van die Here gelees en gehoor het nie, maar vanuit ’n diep persoonlike verhouding met die Here. Dit word duidelik as ons die middeldeel lees. Nou word daar nie meer oor en van die Here gepraat nie, maar eerder met die Here self. Dit word so mooi gestel: Wanneer die moeilikhede in sy lewe kom, sê hy sonder twyfel vir die Here dat hy nie vrees nie, want U is by my (Ps 23:4).

In hierdie diep persoonlike verhouding met God lê die kern van die vertroue asook die getuienis van die skrywer. Hy getuig nie dat die Here sy Herder is en daarom is daar geen donker valleie nie. Hy getuig dat as die Here ons Herder is, ons nie hierdie donker valleie hoef te vrees nie, want u staf en u stok (NDV), die mag van ons God, is wat ons lei en versterk.

Ds Robert van Niekerk, Noordelike Pretoria

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS