Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 13 September

Nie met ons eie krag nie

Bybelteks(te)

SAGARIA 4

Die vyfde gesig: die kandelaar

1Die engel wat vir my die gesigte moes uitlê, het teruggekom en my wakker gemaak, net soos 'n mens uit sy slaap wakker gemaak word. 2Hy het vir my gevra: “Wat sien jy?” maar hy het self voortgegaan: “Ek het gesien daar is 'n kandelaar, heeltemal van goud; bo-op is 'n oliebak met sewe tuite en sewe lamppitte in elkeen. 3By die kandelaar is twee olyfbome, een regs van die oliebak en een links.”

4Ek vra toe vir die engel wat vir my die gesigte moes uitlê: “Wat beteken dit, Meneer?”

5Hy het geantwoord: “Weet jy nie wat dit beteken nie?”

Ek het gesê: “Nee, Meneer.”

6Toe sê hy vir my: “Hier is die boodskap van die Here aan Serubbabel: Nie met mag en krag sal jy slaag nie, maar deur my Gees, sê die Here die Almagtige.”

7Selfs die grootste berg sal voor Serubbabel 'n gelykte word. As Serubbabel die laaste klip van die tempel op sy plek sit, sal die mense roep: “Mooi, mooi!”

8Daarna kom die woord van die Here tot my: 9Serubbabel se hande het hierdie tempel se fondamente gelê, sý hande sal dit klaar bou.

Dan sal julle weet dat die Here die Almagtige my na julle toe gestuur het. 10Moenie die dag van klein dingetjies gering ag nie. Die mense sal bly wees wanneer hulle sien Serubbabel gaan aan met die bouwerk.

Daardie sewe oë op die klip voor Jesua is die oë van die Here wat oor die hele wêreld kyk.

11Toe vra ek vir die engel: “Wat beteken daardie twee olyfbome weerskante van die kandelaar?” 12En verder het ek ook vir hom gevra: “Wat beteken die twee bondels olyftakkies langs die twee goue pype waaruit die goudkleurige olie stroom?”

13Hy het vir my gesê: “Weet jy nie wat dit beteken nie?” en ek het gesê: “Nee, Meneer.”

14Toe sê hy: “Dit is die twee gesalfdes wat in diens staan van Hom aan wie die hele aarde behoort.”

SAGARIA 4:1-14AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die profeet Sagaria se taak is om mense te vertroos in hul teleurstelling. Hy herinner hulle aan die belofte van die Here dat Hy altyd teenwoordig is. Die visioene wat Sagaria gesien het, bevestig dit.

In die vyfde visioen van Sagaria sien hy ’n goue kandelaar waarop ‘n oliebak met sewe tuite en sewe lamppitte rus. Dit is simbolies van die teenwoordigheid van God. Hy wat lig in donker omstandighede bring met sy teenwoordigheid. Dit was juis die Here se teenwoordigheid wat vir Serubbabel die motivering sou wees om die tempel te voltooi. Serubbabel was die goeweneur in Juda in die tyd van Sagaria. Wat die volk en Serubbabel moes besef, is dat hulle eie fisieke krag en geestelike vermoëns nie die waarborg vir die suksesvolle herbou van die tempel sou wees nie. Dit is iets wat die Here self deur sy Gees tot stand bring. Dit moes hulle aanspoor om hul kant te bring. Hul moed was maar laag. Die bouwerk het gestol juis by gebrek aan motivering. In die visioen sê die Here, sy werk hang nie af van menslike insiatief en motivering nie.

Nie met mag en krag sal jy slaag nie, maar deur my Gees, sê die Here die Almagtige (vers 6). Daardie versekering gee ook vir ons nuwe moed. Ook ons kan ingaan en aangaan met ons lewe. ’n Herinnering dat die Here sy werk tot stand bring deur sy Gees wat in mense werk. Met dankbaarheid gaan ons die volgende fase binne.

U, die Herskeppergees, het in ons hart kom woon.
U is dit wat ons troos – pand van genadeloon!
Meer as net “God by Ons”, leef U met ons verenig;
as leidsman op die weg wil U ons smarte lenig.
Deur U geïnspireer wil ons ook heilig lewe.
Ons dank U dat U self die krag is van ons strewe!
(Gesang 447: 3)

Ds Kathleen Smith, Kaapstad

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS