Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 13 November

Staan sonder vrees en skaamte

Bybelteks(te)

1 JOHANNES 2

Kinders van God

28En nou, liewe kinders, julle moet in Hom bly, sodat ons almal niks te vrees sal hê wanneer Hy kom nie en by sy wederkoms nie beskaamd voor Hom sal staan nie. 29Aangesien julle weet dat Hy regverdig is, weet julle ook dat elkeen wat regverdig lewe, 'n kind van God is.

1 JOHANNES 2:28-29AFR83Maak oop in die Bybelleser

Daar word in hierdie twee verse vir my en jou gevra om reg te leef, nie net sodat ons nie eendag sal skaam kry oor ons optrede nie, maar ook sodat ons niks sal hê om te vrees nie. Ons manier van leef moet dan so wees dat ons te alle tye met ons koppe omhoog sal staan en sal uitsien na die wederkoms van ons Here, Jesus Christus. Ons moet so leef dat ons met ywer en opwinding kan wag op die koms van Jesus.

As gelowiges poog ons om daagliks so te leef. Wat hierdie leefstyl egter uitdagend maak, is dat ek en jy nie presies die dag en tyd van Jesus se wederkoms ken nie. Ons het nie ’n teiken waarvoor ons kan mik nie, ons het nie ’n einddoel waarna ons dag na dag kan mik nie.

Dit beteken dat ons net soos die slaaf in Lukas 12:37 te alle tye waaksaam en gereed moet wees vir die dag wanneer ons Here terugkeer. Ons weet nie wanneer ons eienaar, Jesus, terugkeer na sy eiendom toe nie. Daarom moet ons ons instel om te alle tye as gelowiges te volhard, in geloof en in woord en daad, sodat ons ook nie skaam hoef te wees vir ons manier van praat, vir ons optrede en vir ons gedagtes nie. Ons moet so volhard in die geloof dat ons ook niks hoef te vrees wanneer ons voor die Here staan nie.

Ek en jy is in hierdie wêreld, maar ons is nie van hierdie wêreld nie, en daarom moet die manier waarop ons dag na dag leef, ook getuig van die koninkryk van God. Ons woord en daad moet verkondig dat ons reeds in die koninkryk van God leef.

Ds André Steinmann, Piet Potgieter

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS