Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 12 November

Gee-en-neem is verby

Bybelteks(te)

ROMEINE 6

22Maar nou – julle is vrygemaak van die sonde en in diens van God gestel en die vrug daarvan is dat julle geheilig word, en die uiteinde is die ewige lewe. 23Die loon wat die sonde gee, is die dood; die genadegawe wat God gee, is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here.

ROMEINE 6:22-23AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die wêreld waarin ons leef, is een van gee en neem. Ons redeneer dat ons met liefde iets vir iemand anders sal doen, maar net as daardie persoon dan weer vir ons iets terug doen. Ons leer hierdie maniere aan wanneer ons TV kyk, wanneer ons dit oor die radio hoor, en sien dit oral in die sosiale media. So word ons beïnvloed en gevorm deur die lewe van gee-en-neem.

Die slegte ding is dat ons as gelowiges hierdie wyse van leef begin oordra na ons geloofslewe toe. Ons het van ons geloofslewe ook ’n gee-en-neem-leefstyl gemaak. Ons het begin om op hierdie slegte en destruktiewe manier te onderhandel in die gee-en-neem van ons geloof.

Ek sal lief wees vir my naaste indien hulle dit verdien. Ek sal barmhartigheid betoon, sodat ek dit in veelvoud kan terugkry. Ek sal haar vergeef, maar sy moet eers bewys dat sy dit nie weer sal doen nie. Die waarheid is dat ’n geloofslewe vol voorwaardes, soos hierbo genoem, die genade en liefde van God beperk.

Paulus skryf in Romeine 6 dat Jesus die laaste gee-en-neem-transaksie afgehandel en beëindig het. Jesus het ons sonde saam met Hom aan die kruis laat sterf en sodoende onvoorwaardelik vir almal wat glo, die ewige lewe gegee, en al wat ons moet doen, is om dit in geloof aan te neem.

Jesus het reeds vir my en vir jou die ewige lewe gegee, en sy Woord verseker ons daarvan. Ons opdrag vandag is om dit so te gaan uitleef. Ons moet gaan leef soos mense wat glo dat hulle nie meer hoef deel te neem aan die gee-en-neem-leefstyl van die wêreld nie, omdat die finale ruiltransaksie reeds afgehandel is: lewe in die plek van dood.

Ek en jy moet nou uitgaan en gaan leef soos mense wat dit glo. Ons moet deur woord en daad getuig van die ewige lewe wat ons in die plek van die dood ontvang het.

Ds André Steinmann, Piet Potgieter

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS