Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Breek los – Dag 20

Breek los en weet dat God jou nie alleen sal laat nie

Bybelteks(te)

PSALMS 34

18As die regverdiges om hulp roep,

hoor die Here hulle

en red Hy hulle uit al hulle benoudhede.

19Die Here is naby die gebrokenes,

Hy help die moedeloses.

20Al word die regverdige ook deur hoeveel rampe getref,

die Here red hom uit almal.

PSALMS 34:18-20AFR83Maak oop in die Bybelleser

HEBREËRS 13

5Hou julle lewe vry van geldgierigheid; wees tevrede met wat julle het. God self het gesê: “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.”

HEBREËRS 13:5AFR83Maak oop in die Bybelleser

PSALMS 23

4Selfs al gaan ek deur donker dieptes,

sal ek nie bang wees nie,

want U is by my.

In u hande is ek veilig.

Voel jy vandag of ʼn uitdaging in jou lewe dreig om jou te oorweldig? Ek sluit hierdie reeks af met ʼn verkorte weergawe van dr. Isak Burger, president van die AGS Kerk in Suid-Afrika, se getuienis uit my boek, God was dáár. Mag dit jou bemoedig om te weet dat Hy ook altyd dáár is vir jou.

Teleurgesteld het Isak op die stoel in die hospitaal se wagkamer neergesak. Die spanning van die weke voor hierdie dag het meteens gedreig om hom te oorweldig – en boonop was hy net te laat om sy oudste dogter te sien voordat sy in die teater ingestoot word.

Dit was ʼn wintertyd vir die Burger-familie. Weens onverwagte vertragings nadat hulle ʼn eiendom verkoop het, het hulle finansiële druk beleef. Isak se seun het amper sy been tydens ʼn ernstige motorfietsongeluk verloor. Sy jongste dogter is met ʼn onbekende siekte gediagnoseer en sy is gehospitaliseer. En na ʼn huwelik van ses jaar het sy oudste dogter uiteindelik swanger geword. Ernstige komplikasies het egter veroorsaak dat die ongebore baba op 20 weke van haar swangerskap verwyder moes word. Dit sou hulle eerste kleinkind wees en die operasie was vir die hele familie geweldig traumaties.

Omdat Isak se vrou en sy skoonseun uitstedig was, het hy hom van die lughawe gehaas nadat hy ʼn funksie bygewoon het om betyds by die hospitaal te wees om sy dogter voor die operasie te ondersteun. Hy was egter net te laat. Al wat hy kon doen was om vir die teatersuster te vra om vir haar te sê: “Jou pa is hier.” Hy het geweet dat bloot sy teenwoordigheid vir sy dogter berusting sou bring.

In die wagkamer het Isak op die stoel gesit en dink aan alles waardeur hulle is. Die verlies van sy eerste kleinkind saam met die ander uitdagings het diep gesny. In daardie oomblik van mismoedigheid het hy skielik ʼn duidelike fluistering van die Heilige Gees in sy gees ervaar: “Isak, jou Pa is ook hier.” God was dáár in die wagkamer en Hy wou hê dat Isak dit moes weet sodat hy ook in sy storm berusting kon vind. Dié wete dat die Almagtige God, die Skepper van die heelal, hulle nie alleen gelaat het nie, het Isak en sy gesin in ʼn oogwink met vrede gevul . Hy was steeds in beheer en in die maande daarna het hulle ook beleef hoe Hy die storm weer stilgemaak het.

Ons as gelowiges is nie gevrywaar van uitdagende situasies wat ons pad mag kruis nie. Tog kan ons te midde van elke storm weet dat God dáár is. In Psalm 34:18-20 lees ons: “Die Here is naby die gebrokenes, Hy help die moedelose.” In Hebreërs 13:5 sê God self: “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.” En in Psalm 23:4 staan geskryf: “Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In u hande is ek veilig.”

Wat is die uitdagings wat jy vandag ervaar? Onthou, God is reg langs ons. Hy sal ons nooit verlaat of in die steek laat nie. En Hy kan enige storm weer stilmaak! Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.23.0
VOLG ONS