Begin nuut … – Dag 19
Begin nuut ... God is betrokke by die detail in sy skepping
Bybelteks(te)
JOB 28
PSALMS 50
Ek wil die reeks afsluit met getuienisse vir die volgende drie dae. Hier is twee lesers se stories wat getuig dat God betrokke is in die detail van sy skepping.
Leser 1, Marilyn: “My dogtertjie is hoofdogter van haar laerskool. Een van haar pligte behels die bevordering van herwinning. ʼn Paar dae gelede het ek die groenleiertjies (ʼn groep leerders wat herwinningsprojekte aanpak) met ʼn projek gehelp waartydens ons plakkers uitgedeel het en materiaal wat herwin kan word van ouers en kinders ingesamel het.
Ek het aan die groenleiertjies gedemonstreer hoe die sorteerwerk korrek gedoen moes word. Ná my demonstrasie het ek tevrede na my motor gestap. Meteens het ek besef dat ek nie meer my motorsleutel in my hand het nie! Hoe sou ek ooit die sleutel tussen al die klomp sakke met herwinningsmateriaal opspoor?
Die kinders het my dadelik help soek, maar ons kon niks kry nie. Die vreemdste was dat ek glad nie paniekerig geraak het nie. ʼn Absolute vrede van die Heilige Gees het in my hart geheers terwyl ek God gevra het om my deur sy Gees te lei om die sleutel te kry. Ek het skaars klaar gebid toe ek skielik die sleutel ontdek. ʼn Gevoel van dankbaarheid het my oorweldig terwyl ek besef het dat God werklik van alles in die skepping weet. Al die eer gaan aan Hom.”
Leser 2, Anele: “Ek is effens doof in my een oor en slaap gewoonlik verskriklik vas. Verlede Maandagoggend het ek egter 03:00 wakker geskrik van ʼn hond wat baie benoud buite ons kamervenster huil.
Ek en my man het deur die venster gekyk. Na ʼn rukkie het ons ʼn swart dingetjie op die grond gesien beweeg. Dit was ʼn miniatuur worshondjie. ʼn Entjie van hom af het die grootse uil wat ek nog in my lewe gesien het gestaan, gereed om hom aan te val. Ons het onmiddellik by die deur uitgehardloop en die uil weggejaag. Dié het opgevlieg en ʼn entjie daarvandaan op die grond gaan sit – onwillig om sy prooi wat hy oomblikke vantevore op ons gras afgelewer het, te laat gaan! Ek het die hondjie opgetel en in die huis geneem. Ek was oortuig dat God my wakker gemaak het om die hond se lewe te red.
Ek was voorheen nie geheg aan diere nie omdat ek nie tyd gehad het om na hulle om te sien nie. Tog het ek en die hondjie totaal onafskeidbaar geword. Dit voel vir my asof God die hondjie vir my gestuur het om hom op te pas.
Hierdie storie het my weer hoop gegee. As God so oor die diere op aarde voel, hoeveel meer wil Hy nie ook vir ons as sy kinders sorg nie!”
In Job 28:24 lees ons: “Want Hý sien tot by die eindes van die aarde; alles wat onder die hemel is, aanskou Hy”. En in Psalm 50:10-11 lees ons dat God van elke dier op aarde weet: “… al die wilde diere van die bos is myne, die vee op berge by duisende. Ek ken al die voëls van die berge, en wat roer op die veld, is van My.”
God wil betrokke wees by die detail in jou lewe. Gaan jy Hom nooi om jou te help en te lei? Sterkte.