Begin nuut … – Dag 18
Begin nuut ... om jou geloof opnuut op God te plaas
Bybelteks(te)
MARKUS 11
JOHANNES 16
Ek deel graag twee getuienisse van lesers oor God se wonderwerkende krag.
Leser 1, Sandra Faber: “Ek was vir jare ʼn strawwe roker. In een stadium het ek tot sestig sigarette per dag gerook. Geen pil, raad of plakker wat ek gevolg het om op te hou rook, het gehelp nie.
In 2005 het ek ʼn nouer pad saam met God begin stap, maar steeds gesukkel om op te hou rook. Een oggend het ek ʼn tydskrifartikel gelees van ʼn vrou wat vertel het hoe die Heilige Gees haar bonatuurlik gelei en bevry het uit ʼn saak wat vir haar onmoontlik gelyk het. Die artikel het my diep geraak en ek het net daar besluit op my knieë te gaan en vir God te vra om my deur sy Heilige Gees van my rookverslawing te bevry.
God het my gebed verhoor en my in ʼn oogwink bevry. Dit is vandag sewe jaar later en vandat ek daardie dag van my knieë af opgestaan het, het ek nog nooit weer aan ʼn sigaret gevat nie en ook geen onttrekkingsimptome gehad nie! God is almagtig en wanneer Hy ons vrymaak is ons waarlik vry!”
Leser 2, Mabel Swart: “ʼn Paar jaar gelede het rowers my op ʼn dag in die winkel waar ek gewerk het oorval en geld uit my kasregister geneem. Geskok het ek agter hulle aangehardloop. Meteens was daar ʼn geweldige steekpyn in my onderlyf. Soveel so dat ek nie verder kon hardloop nie en die sekuriteitswag hulle moes agterna sit.
By die huis daardie aand het die pyn vererger en my man het my dadelik hospitaal toe geneem. Ná ʼn paar toetse het die dokter ons meegedeel dat ek 17 weke swanger is, maar dat my liggaam, weens die skok, besig was om die baba te verwerp. Daar was reeds bloed in my urine en die dokter het verduidelik dat daar niks is wat hulle kon doen om die proses te stop nie.
Ons het huis toe gegaan en onmiddellik begin bid. Terwyl ons na God se Woord en beloftes gekeer het, het ons Hom gevra om ʼn wonderwerk te verrig. Hy het ingegryp en my genees. Op 21 September 1994 is ons pragtige, gesonde baba gebore. Ek prys die wonderlike naam van Jesus Christus!”
Sandra en Mabel bevestig net weereens dat niks vir God onmoontlik is wanneer ons ons geloof in Hom plaas nie. Luister na Jesus se woorde in Markus 11:24: “Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit al ontvang het, en dit sal vir julle so wees.” Ook in Johannes 16:23: “Dít verseker Ek julle: Wat julle die Vader ook al in my Naam sal bid, sal Hy vir julle gee.”
Daar is krag in die Naam van Jesus Christus. Kom ons begin bid sonder twyfel in ons harte en wag opgewonde oor die deurbraak wat Hy vir ons beplan. Sterkte.