Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Begin nuut … – Dag 20

Begin nuut ... God wil sy goedheid aan ons demonstreer

Bybelteks(te)

PSALMS 100

5want die Here is goed,

aan sy liefde is daar geen einde nie,

sy trou duur van geslag tot geslag.

PSALMS 100:5AFR83Maak oop in die Bybelleser

Ek deel graag drie lesers se getuienisse oor God se grootheid.

Leser 1, Elize: “Vir 23 jaar lank was my man ʼn drankverslaafde. Dit het baie probleme in ons huwelik veroorsaak. Oor die jare was my man by verskeie rehabilitasiesentrums, maar dit het telkens gevoel asof die probleem net vererger het. Ek kon nie verstaan waarom ʼn goeie mens sy lewe so wou weggooi nie.

In Desember 2001 het ek uit die huis getrek en 25 kilometer buite die dorp gaan woon. Ons seun en dogter het steeds by my man gewoon. Een oggend net na 05:00 kry ek ʼn telefoonoproep van my dogter wat sê dat my man in die hospitaal opgeneem is nadat hy begin bloed opgooi het.

Ek het my na die hospitaal gehaas en my man bleek in die bed gekry weens sy bloedverlies. Volgens die dokters het sy lewe aan ʼn draadjie gehang en kon hy gesterf het as ons kinders hom ʼn halfuur later gekry het.

Ek het by hom gaan sit en hom gevra of hy nie Koning Jesus as hoof van sy lewe wou aanstel en Hom wou vra om hom met sy probleem te help nie. My man het dit gedoen!

God het my man se lewe kom red en ons huwelik herstel. Hy was daarna bevry van alkohol! Al die eer gaan aan God.”

Leser 2, Pieter: “Ek en my vrou was jare gelede by goeie vriende van ons se troue in Chrissiesmeer in Mpumalanga. Die seremonie het in ʼn pragtige dennewoud buite die dorp plaasgevind. Tussen al die opwinding van die dag het die bruid se verloofring en troupant verlore geraak.

Die bruidegom en sy familielede het verwoed na die ringe gesoek, maar die paartjie moes later sonder die ringe trou. Ná die seremonie het die familie en vriende weer gebid dat God hulle sou lei om die ringe te vind. Hulle het weer gesoek, maar steeds niks gevind nie.

Daardie volgende dag is ek en my vrou terug na die woud om te gaan foto’s neem. Ek het ʼn vreemde voorgevoel gehad dat ons die ringe sou vind.

Toe ons by die woud opdaag het my vrou haar kamera opgestel en die landskap begin afneem. Ek het ʼn lang stok opgetel en oor die gesnyde gras voor die woud begin vee. Skaars drie minute later het ek iets in die gras sien blink. Dit was Cornelia se verloofring! God het ons gehelp om beide die ringe te vind!”

Leser 3, André: “Toe ons seuntjie een jaar oud was, het hy ernstig siek geword. Ons het hom na die dokter geneem wat hom dadelik in die hospitaal wou opneem. Ons het hom egter verseker dat ons by die huis selfs beter na ons seun kon kyk. Die dokter het ingestem dat ons hom kon huis toe neem op voorwaarde dat ons hom die volgende oggend moes terugneem vir ʼn opvolgondersoek.

Daardie aand nadat ons seuntjie aan die slaap geraak het, kon ons hoor hoe hy met moeite asemgehaal het. Ek en my vrou het saam langs sy bedjie gekniel en vir God se genade gepleit. In geloof het ons daarna opgestaan, die deur agter ons toegetrek en by ons dogtertjie gaan sit. Toe ons later die aand weer by ons seuntjie gaan inloer, was ons verstom. Hy het meteens heeltemal normaal asemgehaal! Toe ons hom die volgende dag na die dokter neem, kon hy nie glo dat dit dieselfde seuntjie is nie. God het ʼn wonderwerk gedoen omdat ons volkome op Hom vertrou het!”

Elize, Pieter en André is reg. God is goed en Hy wil sy goedheid en liefde aan ons demonstreer. Luister na die woorde in Psalm 100:5: “ … die Here is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie, sy trou duur van geslag tot geslag.”

Kom ons hou ons oë oop vir wat God vandag in en deur ons lewens wil doen om sy goedheid aan ons te wys! Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS