Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Begin nuut … – Dag 11

Begin nuut ... om God vir sy liefde te dank

Bybelteks(te)

JOHANNES 3

16“God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.

JOHANNES 3:16AFR83Maak oop in die Bybelleser

ROMEINE 8

34Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons.

ROMEINE 8:34AFR83Maak oop in die Bybelleser

Februarie is die maand van liefde. Op 14 Februarie word geskenke regoor die land uitgedeel as ʼn aanduiding van mense se liefde teenoor mekaar. Mag ons nooit van God se onbeskryflike liefde teenoor ons vergeet nie! Hy het sy liefde aan ons demonstreer deur sy enigste Seun vir ons te gee.

“Mayday, mayday …” Dít was die noodroep van ʼn bekommerde Britse vlieënier tydens die Tweede Wêreldoorlog. Hy en sy span was op ʼn missie uitgestuur om Duitsland te bombardeer. Die weermag op die grond het egter die vliegtuig raakgeskiet en hulle was vinnig besig om beheer te verloor. Die vlieënier se noodroep het al hoe meer desperaat geword.

In die vliegtuig het die gewonde soldate gekreun van die pyn. Die lugmagkapelaan, wat in die romp van die bomwerper geskuil het, was die enigste lid aan boord wat nie in die aanval gewond is nie. Die vlieënier het met al sy krag op die stuur van die vliegtuig geleun in ʼn poging om dit bo-oor die heuwel, wat vinnig nadergekom het, te vlieg. Oor sy skouer het hy na die kapelaan geroep om soveel moontlik van die bagasie uit die vliegtuig te gooi om dit sodoende ligter te maak. Die kapelaan het dit gedoen, maar die vliegtuig was steeds te swaar en die berge was te naby. Sou hulle sterf?

Die vlieënier het sy oë gesluit en terwyl hy skree, hard op die stuur geleun. Net voordat die vliegtuig die berg sou tref, het dit skielik opwaarts begin vlieg en die bergtop en bome gemis. Met die Engelse Kanaal in sig, het die vlieënier verlig uitgeroep: “Kapelaan, ons het dit gemaak!” Dit was egter doodstil in die vliegtuig. Na ʼn paar minute het die vlieënier oor sy skouer gekyk en met ʼn skok besef dat die kapelaan nie meer aan boord van die vliegtuig was nie. Met die naderende bergtop het die kapelaan uitgespring omdat hy besef het dat sy gewig die verskil tussen lewe en dood sou beteken. Op hierdie manier het hy die bemanning se lewens gered.

Besef jy dat Jesus 2 000 jaar gelede aan ʼn kruis op Golgota vir ons presies dieselfde gedoen het? Hy het besef dat ons mense nooit die mas sou kon opkom om sonder sonde voor God te staan nie. Daarom het Hy vrywillig sy lewe aan die kruis vir ons opgeoffer.

In Johannes 3:16 lees ons: “God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.” Tot en met vandag sit Jesus langs sy Vader om vir ons in te tree: “Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons” (Romeine 8:34).

Wanneer laas het jy vir God dankie gesê dat Hy bereid was om sy Seun vir ons te gee? En leef jy daagliks só dat jy aan God jou liefde vir Hom demonstreer? Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS