Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Begin nuut … – Dag 10

Begin nuut ... jou dag saam met God

Bybelteks(te)

JAKOBUS 4

8Nader tot God en Hy sal tot julle nader. Was julle hande, sondaars, en reinig julle harte, huigelaars.

Waar en wanneer spandeer jy tyd saam met God? In ʼn meningspeiling jare gelede het een van die mense met wie ek ʼn onderhoud gevoer het aan my vertel dat sy elke oggend voor werk vir ʼn halfuur op haar stoep gaan sit om met God te gesels. ʼn Ander vrou het my vertel dat sy soggens vir 15 minute op haar balkon gaan staan om vir God vir wysheid vir die dag te vra en ook vir beskerming vir haar en haar gesin. Nog ‘n persoon het vertel hoe hy vroegdag aanbiddingsmusiek luister op pad werk toe en sorg dat hy ʼn paar minute vroeër by die werk opdaag sodat hy agter ʼn toe kantoordeur sy dag saam met God kan begin.

Al erken die meeste mense met wie ek gesels het dat ʼn verhouding met God beteken dat ons regdeur die dag met Hom kan praat, is hierdie oomblikke waarin hulle soms net luister van kardinale belang om God te leer ken. Dit was vir my interessant dat al drie persone aan my vertel het dat hulle mettertyd onmiddellik God se teenwoordigheid op die stoep, op die balkon of in die kantoor kon aanvoel wanneer hulle daar kom – amper asof Hy reeds vir hulle daar wag.

Luister gerus na die woorde in Jakobus 4:8: “Nader tot God en Hy sal tot julle nader.”

God het ons mense geskep om in ʼn verhouding met Hom te staan. Hy begeer dat ons Hom deel van elke aspek van ons lewens maak. Soms is die stem van die Heilige Gees heelwat duideliker in ons harte as wat ons besef.

Waarom kies jy nie om die radio in jou motor op pad werk toe af te skakel sodat jy met God kan praat of ʼn paar minute vroeër by jou werk op te daag sodat jy Hom in jou kantoor en dag in te nooi nie? As jy God met ʼn opregte hart nader sal jy ervaar dat Hy jou ook nader. Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS