Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Begin nuut … – Dag 12

Begin nuut ... maak jy Hom steeds jou eerste liefde?

Bybelteks(te)

DIE OPENBARING 2

2Ek weet alles wat julle doen. Ek ken julle onvermoeide arbeid en julle volharding. Julle kan nie slegte mense verdra nie. Julle het ondersoek ingestel na die mense wat voorgee dat hulle apostels is, en dit nie is nie, en gevind dat hulle leuenaars is. 3Verder volhard julle ook; julle het baie vir my Naam verduur, en julle het nie moeg geword nie.

4Maar Ek het dít teen julle: julle het My nie meer so lief soos in die begin nie.

5Dink daaraan hoe ver julle al agteruitgegaan het. Bekeer julle en doen weer wat julle in die begin gedoen het. Anders, as julle julle nie bekeer nie, kom Ek na julle toe en sal Ek julle lamp van sy plek af wegvat!

DIE OPENBARING 2:2-5AFR83Maak oop in die Bybelleser

Dit was ʼn hartseer dag toe die koningin op ʼn jong ouderdom sterf. Sy was die koning se ware liefde en ook geliefd onder al die inwoners van die koninkryk. Mense het uit alle oorde gereis om hulle laaste eer aan haar te betoon en daar was baie trane toe die koning se knegte haar kis deur die strate van die stad dra.

Ná die optog het die knegte die kis langs die graf neergesit. Die koning het langs die kis neergeval en hartverskeurend begin huil: “Justine! Justine! Hoe gaan ek ooit sonder jou kan leef?!” Hy het vir ʼn geruime tyd daar bly sit. Toe hy eindelik opstaan het hy sy trane afgevee en vasbeslote aangekondig: “Knegte, gooi toe die graf. Ons gaan nie die koningin hierin begrawe nie. Van môre af begin ons bou aan ʼn tempel met net die beste boumateriaal sodat ons vir haar in ʼn ereplek kan begrawe. Niemand mag ooit van haar vergeet nie!”

Die bouwerk het begin. Die maande het in jare verander en die gebou het al hoe meer indrukwekkend geword terwyl die bouers al minder aandag aan die vaal, stowwerige houtkis in die middel van die vertrek gegee het.

Op ʼn dag stap die koning die tempel binne om die marmerwerk en die fyn kunswerke teen die mure te bewonder. Hy was in sy skik! Toe hy omdraai om uit te stap, stamp hy per ongeluk sy voet teen die houtkis. Geïrriteerd het hy een van die knegte nader geroep en hom beveel om die houtkis uit die tempel te verwyder – die koning was onbewus dat hy van die koningin gepraat het.

Hoeveel van ons het al soos hierdie koning in dieselfde strik getrap? Aanvanklik staan ons verstom oor God se grootheid, liefde en verlossingsplan vir die mensdom. Ons kan nie wag om almal rondom ons van Jesus se opoffering vir ons aan die kruis te vertel nie. Maar wanneer ons nie versigtig is nie, begin die vyand toeslaan wanneer ons dinge vir die Here doen (byvoorbeeld sopkombuise, basaars, selgroepe en ander projekte) en raak ons dan so besig dat ons van die Here begin vergeet.

Luister na God se woorde in Openbaring 2:2-5: “Ek weet alles wat julle doen. Ek ken julle onvermoeide arbeid en julle volharding … Maar Ek het dít teen julle: julle het My nie meer so lief soos in die begin nie … Bekeer julle en doen weer wat julle in die begin gedoen het …”

Kan jy met ʼn eerlike hart sê dat God steeds jou eerste liefde in jou lewe is of het jy mettertyd toegelaat dat ander dinge vir jou belangriker word? Kom ons kies saam vandag om Hom weer op die troon van ons harte te plaas! Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS