Bible Society of South Africa

Bybelleesrooster – Dag 215

Bybelteks(te)

KLAAGLIEDERE 1

Daar is niemand wat vir Jerusalem bystaan nie

1Ag, hoe verlate lê die stad

wat vol mense was!

Sy het soos 'n weduwee geword,

sy wat magtig was onder die nasies.

Sy wat heerskappy gevoer het oor ander

moet nou dwangarbeid doen.

2Onbedaarlik huil sy die hele nag,

die trane loop oor haar wange.

Niemand van haar vroeëre minnaars

is daar om haar te troos nie.

Al haar bondgenote het teen haar verraad gepleeg,

hulle het haar vyande geword.

3Juda se mense is weggevoer, hulle kry swaar, hulle is slawe,

hulle sit tussen vreemde nasies

waar hulle geen rusplek kry nie;

hulle agtervolgers het hulle ingehaal,

hulle in die noutes vasgekeer.

4Die paaie na Sion toe treur

omdat daar geen feesgangers is nie;

al haar poorte is verlate,

haar priesters sug,

haar jong vroue is bedroef,

sy het dit bitter.

5Haar teëstanders het haar heersers geword,

haar vyande lewe nou rustig.

Die Here het haar laat ly oor haar baie sonde;

haar kinders het ballinge geword,

deur die vyand weggevoer.

6Die prag van Sion het alles verdwyn.

Haar leiers het soos takbokke geword

wat geen weiveld vind nie,

hulle moes magteloos wegtrek voor hulle agtervolgers uit.

7In hierdie dae van haar ellende en verdrukking

dink Jerusalem aan al haar kosbare dinge van die verlede.

Toe haar volk in die hande van die vyand geval het,

was daar niemand wat haar gehelp het nie;

haar vyande het dit gesien,

hulle het gelag oor wat van haar geword het.

8Jerusalem het groot sonde gedoen,

dit het haar soos 'n onrein vrou laat word;

die mense het haar naaktheid gesien,

almal wat haar geëer het, verag haar nou.

Sy sug en draai weg.

9Haar onreinheid wys aan haar klere,

sy het nie gedink aan wat van haar sou word nie.

Sy het diep geval

en daar is niemand wat haar bystaan nie.

Sien tog my ellende raak, Here,

kyk wat matig die vyand hom aan!

10Die vyand het beslag gelê

op al haar waardevolle dinge;

sy moes aanskou hoe heidennasies

in haar heiligdom ingaan,

hulle vir wie U belet het

om in u gemeente te kom.

11Haar hele bevolking sug,

hulle soek brood,

hulle het hulle waardevolle besittings verruil

vir kos om aan die lewe te bly.

Kyk tog, Here, en sien tog raak

hoe verag ek is.

12Raak dit julle nie,

julle almal wat met die pad verbygaan?

Kyk tog self of daar 'n smart is soos die smart

wat oor my gekom het,

wat die Here my aangedoen het

die dag toe sy toorn losgebreek het.

13Hy het 'n vuur van bo af gestuur,

en dit het my liggaam verteer;

Hy het vir my voete 'n strik gestel,

my agteroor laat steier;

Hy het my verlate gemaak,

ongeneeslik siek.

14My sondes is saamgebind tot 'n juk,

hulle is saamgevleg deur die hand van die Here,

hulle is op my nek gesit,

en dit het my krag laat ingee.

Die Here het my oorgegee in die mag van mense

teen wie ek geen weerstand kon bied nie.

15Die Here het al my dapper manne as waardeloos beskou,

ten koste van my het Hy 'n feestyd uitgeroep

om 'n slagting onder my jongmanne aan te rig.

In 'n parskuip het die Here vir Juda fyngetrap.

16Dit is daarom dat ek so huil,

dat die trane uit my oë stroom.

Daar is geen trooster naby nie;

my bevolking is verslaan,

die vyand het die oorhand gekry.

17Sion steek haar hande uit om hulp,

maar daar is niemand wat haar bystaan nie.

Die Here het vir Jakob aan alle kante vyande ontbied.

Jerusalem het onder hulle soos 'n onrein vrou geword.

18Die Here het reg gedoen:

ek was ongehoorsaam aan sy woord.

Luister tog, alle volke,

aanskou my smart:

my jong vroue en jongmanne het ballinge geword.

19Ek het na my bondgenote geroep,

maar hulle het my in die steek gelaat.

My priesters en leiers het in die stad beswyk

toe hulle vir hulle kos gesoek het

om aan die lewe te bly.

20Kyk na my nood, Here!

Dit brand in my,

ek is verpletter

omdat ek so ongehoorsaam was;

buite maai die swaard af

en in die huise heers die pes.

21Hulle hoor my sug,

maar daar kom niemand om my by te staan nie;

al my vyande hoor hoe sleg dit met my gaan

en hulle is bly dat U dit gedoen het.

Laat tog die dag kom wat U aangekondig het,

dat hulle kan word soos ek is.

22Laat al hulle boosheid voor U kom,

en doen met hulle

soos U met my gedoen het oor al my sondes.

Ek sug gedurig,

my hart is gebreek.

KLAAGLIEDERE 2

Die dag van die Here se toorn

1Ag, hoe het die Here in sy toorn

die donker laat toesak oor Sion!

Hy het die pragstad van Israel tot in die stof verneder,

Hy het op die dag van sy toorn

sy eie tempel nie ontsien nie.

2Die Here het geen genade betoon nie,

Hy het al die woonplekke van Jakob vernietig,

Hy het in sy toorn

die vestings van Juda afgebreek.

Hy het die koninkryk verwoes,

die leiers tot in die stof verneder.

3Deur sy vernietigende toorn

het Hy die krag van Israel heeltemal gebreek.

Toe die vyand kom,

het die Here sy magtige hand teruggetrek

en sy toorn teen Jakob laat brand

soos 'n vlam wat alles rondom verteer.

4Soos 'n vyand het Hy sy boog gespan en aangelê,

soos 'n teëstander

het Hy al wat dierbaar is, uitgeroei;

in die woning van Sion

het Hy sy toorn uitgegiet soos vuur.

5Die Here het soos 'n vyand geword,

Hy het Israel vernietig,

Hy het al die wonings vernietig,

die vestings verwoes,

Hy het ellende op ellende oor Juda gebring.

6Hy het sy eie woning verniel

asof dit 'n skerm in 'n tuin is,

Hy het die plek van ontmoeting vernietig;

die Here het in Sion feestyd en sabbat laat ophou;

in sy groot toorn het Hy koning en priester verwerp.

7Die Here het sy altaar verwerp

en sy heiligdom laat vertrap.

Hy het die mure rondom die tempelgebou

laat afbreek deur die vyand.

Hulle het in die huis van die Here gejuig

asof dit sy volk is wat daar feesvier.

8Die Here het besluit

om die muur van Sion te verwoes,

Hy het bepaal dat dit heeltemal afgebreek moet word,

Hy het nie op sy besluit teruggegaan nie;

van die vestings en die mure het Hy bouvalle gemaak,

hulle lê daar saam en vergaan.

9Sion se poorte is begrawe in puin,

die sluitbalke is gebreek en lê aan stukke.

Sy koning en sy leiers is weggevoer na die heidene toe.

Daar is geen onderrig meer in die wet nie,

sy profete ontvang ook geen openbaring meer van die Here nie.

10Die leiers van Sion

sit verslae op die grond,

hulle het stof op hulle koppe gegooi

en het rouklere aan;

die koppe van die jong vroue van Jerusalem hang tot op die grond.

11My oë is gedaan van die huil,

dit brand in my,

my moed is gebreek,

want my volk is plat geslaan;

kinders en babatjies sak inmekaar in die strate van die stad.

12Hulle soek by hulle moeders iets om te eet en te drink.

In die strate van die stad val hulle om soos gewondes,

in die arms van hulle moeders blaas hulle die asem uit.

13Wat kan ek vir jou sê,

waarmee kan ek jou vergelyk, Jerusalem?

Wie se lyding kan ek vir jou noem

dat ek jou daardeur kan troos, Sion?

Jou verwonding is soos die see so groot,

wie kan jou genees?

14Die visioene van jou profete

was vals en misleidend:

hulle het nie jou sondes blootgelê

sodat jou ballingskap afgeweer kon word nie;

die openbaringe wat hulle vir jou gegee het,

was vals en het tot jou verwerping gelei.

15Almal wat met die pad verbygaan,

slaan die hande saam oor jou,

hulle fluit en skud hulle kop oor Jerusalem:

“Is dit die stad wat genoem is

die beeldskone, 'n vreugde vir die hele wêreld?”

16Al jou vyande rek hulle mond oor jou,

hulle spot en kry lekker,

hulle sê: “Ons het hom verslind,

dit is die dag waarvoor ons gewag het,

dit het gebeur, ons beleef dit!”

17Die Here het gedoen wat Hy Hom voorgeneem het,

Hy het die woord in vervulling laat gaan

wat Hy lank gelede al afgekondig het.

Hy het verwoes en geen genade betoon nie,

Hy het die vyand hom oor jou laat vermaak,

Hy het aan jou teëstanders die oorwinning gegee.

18Roep tot die Here, Sion,

laat jou trane in strome vloei,

dag en nag,

moet jou nie rus gun nie,

moenie dat jou oë verligting kry nie.

19Staan dwarsdeur die nag op en roep,

stort voor die Here jou hart uit soos water,

strek jou hande uit, en bid om die lewe van jou kinders,

hulle wat van honger beswyk op die hoeke van die strate.

20Kyk tog, Here, let tog op

aan wie U dit gedoen het:

vrouens eet hulle eie kinders,

kinders wat in teerheid versorg is;

priesters en profete word doodgemaak

in die heiligdom van die Here!

21Jonges en oues lê dood in die strate;

jong vroue en jongmanne het deur die swaard geval.

U het hulle neergevel op die dag van u toorn,

U het 'n slagting aangerig en geen genade betoon nie.

22U het al my bure uitgenooi

om hier 'n bloedige fees te vier.

Op hierdie dag van die Here se toorn

kon niemand ontvlug of vrykom nie.

My kinders wat ek met teerheid versorg en grootgemaak het,

is deur my vyande om die lewe gebring.

KLAAGLIEDERE 1:1-2:22AFR83Maak oop in die Bybelleser
Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS