Bible Society of South Africa

Bybelleesrooster – Dag 214

Bybelteks(te)

JEREMIA 52

Sedekia. Die val van Jerusalem

1Sedekia was een en twintig toe hy koning geword het en hy het elf jaar in Jerusalem geregeer. Sy ma was Gamutal, 'n dogter van Jeremia, uit Libna. 2Sedekia het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here en het in alles die voorbeeld van Jojakim gevolg. 3Die toorn van die Here was op Jerusalem en Juda; Hy wou hulle wegvee uit sy teenwoordigheid.

Sedekia het in opstand gekom teen die koning van Babel, 4en in die negende regeringsjaar van Sedekia, op die tiende van die tiende maand, het koning Nebukadnesar van Babel met sy hele leër met 'n aanval op Jerusalem begin. Hy het kamp opgeslaan by die stad en 'n beleëringswal rondom die stad gebou. 5Die stad is beleër tot in die elfde regeringsjaar van koning Sedekia. 6Teen die negende dag van die vierde maand was die hongersnood in die stad so erg dat daar nie meer kos vir die bevolking was nie. 7Toe is daar 'n opening in die muur gebreek, en al die soldate het gevlug. Hulle is in die nag deur die poort tussen die twee mure langs die Koningstuin, hoewel daar Galdeërs rondom die stad was. Die soldate het in die rigting van die Jordaanvallei gevlug, 8maar die Galdese leër het vir koning Sedekia agtervolg en hom ingehaal op die Jerigovlakte. Sy hele leër was toe al uitmekaar gejaag, weg van hom af, 9en hy is gevang en na die koning van Babel toe gevat in Ribla, in Hamat. Die koning van Babel het vir Sedekia verhoor 10en toe sy seuns voor sy oë laat doodmaak. Hy het ook al die Judese amptenare laat doodmaak daar in Ribla, 11Sedekia se oë laat uitsteek, hom met bronskettings laat boei en hom na Babel toe gevat en daar in die tronk laat sit tot sy dood toe.

12In die vyfde maand, op die tiende van die maand, in die negentiende regeringsjaar van koning Nebukadnesar van Babel, het Nebusaradan by Jerusalem aangekom. Hy was hoof van die lyfwag en in die persoonlike diens van die koning van Babel. 13Hy het die huis van die Here, die paleis en al die huise in Jerusalem, elke groot gebou, afgebrand. 14Al die Galdese soldate wat onder sy bevel was, het die muur om Jerusalem heeltemal afgebreek. 15Party van die armste mense, en verder die mense wat in die stad oor was, ook dié wat na die koning van Babel toe oorgeloop het, en die ambagsmanne wat oor was, is gevange weggevoer deur Nebusaradan, die hoof van die lyfwag. 16Party van die armste mense van die land het hy laat agterbly om die wingerde en die lande te bewerk.

17Die Galdeërs het die bronspilare, die waentjies en die bronswaterbak wat by die huis van die Here was, stukkend geslaan en al die brons na Babel toe gevat. 18Hulle het die potte, die skoppe, die skêre, die komme vir besprinkeling en die panne saamgevat, en al die ander bronsgoed wat in die tempeldiens gebruik is. 19Die hoof van die lyfwag het die bakke, die vuurpanne, die komme vir besprinkeling, die potte, die kandelare, die panne, die offerkomme, alles wat goud of silwer was, buitgemaak. 20Die brons van die twee pilare, van die waterbak met die twaalf beeste onder, en van die waentjies wat koning Salomo gemaak het vir die huis van die Here was soveel dat dit nie geweeg kon word nie. 21Wat betref die pilare, elke pilaar was nege meter hoog en ses meter in die omtrek en was hol met 'n wand van nege sentimeter dik. 22Die bronskapiteel bo-op was twee en 'n half meter hoog. Die rooster met die granate om die kapiteel was heeltemal van brons. Die ander pilaar met die granate was net so. 23Daar was ses en negentig granate sigbaar, maar daar was altesaam honderd granate rondom aan die rooster.

24Die hoof van die lyfwag het die hoëpriester Seraja, die priester tweede in rang, Sefanja, en die drie drumpelwagte gevange saamgevat. 25Uit die stad het hy die offisier gevange geneem wat in bevel was van die soldate. Daar was ook nog sewe van die koning se vertrouelinge in die stad, die sekretaris van die hoof van die leër wat vir die oproep van die burgers verantwoordelik was, en sestig van die burgers. 26Nebusaradan, die hoof van die lyfwag, het hulle gevange geneem en hulle na die koning van Babel toe in Ribla gevat. 27Die koning van Babel het hulle laat doodmaak daar in Ribla, in Hamat.

So is Juda dan uit sy land uit weggevoer.

28Die getal mense wat deur Nebukadnesar weggevoer is, is soos volg: in die sewende jaar: 3 023 Judeërs, 29in die agtiende regeringsjaar van Nebukadnesar: 832 mense uit Jerusalem, 30in die drie en twintigste jaar: 745 Judeërs, weggevoer deur die hoof van die lyfwag Nebusaradan. Dit was altesaam 4 600 mense.

Jojagin word bevoorreg

31In die sewe en dertigste jaar van die ballingskap van koning Jojagin van Juda, op die vyf en twintigste van die twaalfde maand, het Ewil-Merodak wat pas koning van Babel geword het, vir koning Jojagin van Juda uit die gevangenis vrygelaat. 32So het hy hom begenadig en hom hoër status gegee as die ander konings wat by hom in Babel was. 33Jojagin kon sy tronkklere uittrek en het so lank hy gelewe het, aan die koning se tafel geëet 34en Jojagin het tot sy dood toe van die koning van Babel 'n permanente toelae ontvang vir sy daaglikse behoeftes.

JEREMIA 52:1-34AFR83Maak oop in die Bybelleser

HABAKUK 1

Opskrif

1'n Uitspraak van die Here wat Hy aan die profeet Habakuk geopenbaar het.

Habakuk se klag: Onreg

2Hoe lank moet ek om hulp roep

voordat U hoor, Here,

moet ek by U bly kla oor geweld

voordat U red?

3Waarom laat U my die onreg sien wat gedoen word,

waarom kyk U toe as daar soveel ellende is?

Oral rondom my is daar onderdrukking en geweld,

en word daar getwis en gebaklei.

4Die wet het nie meer krag nie,

en daar geskied nie meer reg nie.

Slegte mense het die oorhand oor die goeies,

en so word die reg verkrag.

Die antwoord van die Here: Ek gaan iets doen

5Die Here het geantwoord:

Kyk na die ander nasies:

julle sal verstom staan oor wat julle sien.

Ek gaan nog tydens julle lewe iets doen wat julle nie sal glo

as dit vir julle vertel word nie.

6Ek gaan die Galdeërs laat kom,

die wrede, woeste nasie

wat dwarsoor die aarde rondtrek

om lande te verower wat nie hulle s'n is nie.

7Hulle is 'n nasie wat vrees en ontsag inboesem,

hulle ken net een wet, een trots, hulle eie.

8Hulle perde is vinniger as luiperds,

vuriger as honger wolwe.

Hulle ruiters kom aan op 'n galop,

hulle kom van ver af,

hulle vlieg soos arende wat op hulle prooi neerskiet.

9Hulle hele leërmag kom om verwoesting te saai,

hulle kom aangestorm soos die oostewind

en maak krygsgevangenes bymekaar soos sand.

10Die Galdeërs dryf die spot met konings

en lag maghebbers uit.

Hulle lag oor al die vestingstede:

hulle gooi grondwalle teen die stede op en neem hulle in.

11Dan jaag hulle verder, hulle trek verby soos die wind.

Vir hierdie sondige nasie is sy eie mag sy god.

Habakuk se tweede klag: Waarom bly U stil?

12U is tog van altyd af daar, Here;

U is my heilige God;

ons sal nie sterwe nie.

U, Here, het die Galdeërs aangestel om die vonnis te voltrek,

U, ons Rots, het hulle die mag gegee om ons te straf.

13U oë is te rein om toe te kyk terwyl daar verkeerd gedoen word,

U kan tog nie sien dat daar ellende is en niks doen nie!

Waarom doen U dan niks aan die trouelose mense nie,

waarom bly U stil wanneer slegte mense dié vernietig

wat beter as hulle is?

14Hoe kan U mense behandel asof hulle visse is,

asof hulle kruipende insekte sonder leier is?

15Die Galdeërs vang mense met hoeke,

trek hulle vas in nette,

maak hulle bymekaar in treknette,

en juig en jubel oor die vangs!

16Die Galdeërs bring selfs offers vir hulle nette,

brand wierook vir hulle treknette,

want deur die nette leef hulle in weelde

en het hulle volop kos!

17Sal hulle maar deurentyd voortgaan om hulle nette uit te skud,

om nasies meedoënloos om die lewe te bring?

HABAKUK 2

Die antwoord van die Here: Wie reg doen, sal lewe

1Ek wil op my uitkyktoring gaan staan,

my plek op die vestingmuur gaan inneem,

ek wil wag om te verneem wat die Here vir my sal sê

en wat ek moet antwoord wanneer mense my verwyt.

2Die Here het toe vir my gesê:

Skryf wat Ek aan jou gaan openbaar duidelik op kleitablette

sodat mense dit sommer in die verbygaan kan lees.

3Die openbaring geld vir 'n bepaalde tyd;

dit sal gou kom want dit kom beslis.

Jy moet net geduldig bly wag

as dit nie gou kom nie,

want dit kom beslis, dit sal nie uitbly nie.

4Dit is die boodskap:

Wie nie reg gesind is nie, sal sy verdiende loon kry,

maar wie reg doen, sal lewe omdat hy getrou bly.

Oordeel oor die Galdeërs

5'n Hooghartige mens wat hom deur sy rykdom laat mislei,

sal nie in sy doel slaag nie,

al is hy so gulsig soos die doderyk,

so onversadigbaar soos die dood,

al versamel hy al die nasies rondom hom,

al maak hy gevangenes van al die volke.

6Dieselfde volke sal spotliedjies oor hom sing

en met minagting na hom verwys.

Hulle sal sê:

Ellende wag vir hom wat hom verryk met goed wat nie syne is nie,

wat vir hom al meer goed inpalm wat verpand is. Hoe lank sal dit nog voortduur?

7Die tyd kom vinnig nader dat jy self in die skuld sal wees,

dat skuldeisers vir wie jy sidder, skielik voor jou sal staan

en jou sal kaalstroop.

8Jy het baie nasies geplunder,

maar nou sal dié wat oorgebly het, jou plunder,

want jy het baie bloed vergiet,

geweld gepleeg in baie lande, teen stede en teen hulle inwoners.

9Ellende wag vir hom wat hom ten koste van ander wou verryk en daardeur 'n ramp oor sy familie gebring het,

hy wat vir hom 'n hoë nes wou bou

juis om 'n ramp vry te spring.

10Met jou geknoei het jy jou familie se ondergang bewerk;

jy wou baie volke uitroei, maar daarmee het jy 'n einde aan jou eie lewe gemaak.

11Selfs die klippe in die mure skreeu oor wat jy gedoen het,

en die balke skreeu saam.

12Ellende wag vir hom wat 'n stad bou met moord,

wat 'n dorp aanlê met onreg.

13Dit is die Here die Almagtige wat dit beskik het dat dít

waarvoor volke gewerk het

in vlamme opgegaan het,

dat volke hulle tevergeefs afgesloof het.

14Soos waters die seebodem bedek,

so sal die magtige teenwoordigheid van die Here oral op die aarde geken word.

15Ellende wag vir hom wat, toe hy vir 'n ander drank gegee het,

dit met gif gemeng het

en hom dronk gemaak het

om na sy kaal geslagsdele te kan kyk.

16Jy sal self met skande in plaas van met eer oorlaai word,

jy sal self dronk word en jou ontbloot!

Die Here sal jou die oordeelsbeker wat in sy hand is, gee om te drink,

en jou eer sal in skande verander word.

17Jou geweld teen die Libanon sal jouself tref,

jou mishandeling van die diere op die Libanon

sal jouself vernietig.

Jy het baie bloed vergiet,

jy het geweld gepleeg teen baie lande, teen stede met hulle inwoners.

18Wat is die nut van 'n afgod?

Dit is maar net iets wat deur 'n mens gemaak is,

'n beeld waarvan net bedrog

te wagte kan wees.

Wat baat dit die maker om op sy maaksel te vertrou

as hy 'n afgod gemaak het wat nie eens kan praat nie?

19Ellende wag vir hom wat vir 'n stuk hout sê: “Word wakker!”

of vir 'n dooie stuk klip: “Staan op!”

Kan 'n afgod jou iets leer?

Al is hy met goud of silwer oorgetrek,

is daar geen lewe in hom nie.

20Die Here is in sy heilige tempel:

almal op aarde moet in sy teenwoordigheid stil wees!

HABAKUK 3

Habakuk se gebed

1'n Gebed van die profeet Habakuk. Op die wysie van 'n klaaglied.

2Here, ek het gehoor wat van U vertel is

en ek is vervul met ontsag vir wat U gedoen het.

Doen dit tog ook in ons tyd,

laat u dade ook in ons tyd ervaar word,

ontferm U selfs in u toorn.

3God kom van Teman af,

die Heilige kom van Paranberg af. Sela

Die hemelruim is vol van sy majesteit,

die aarde vol van sy roem.

4Hy kom met die glans van die lig,

weerligte blits uit sy hand,

sy hand so vol mag.

5Voor Hom uit gaan die pes,

in sy voetstappe volg die dood.

6Wanneer Hy staan, skud die aarde;

wanneer Hy kyk, bewe die nasies.

Die eeue-oue berge verkrummel,

die ou-ou heuwels val inmekaar,

die berge waaroor Hy van ouds af gewandel het!

7Ek het gesien hoe onheil die tente van Kusan tref,

hoe die tentdoeke van Midian bewe.

8Was U kwaad vir die riviere, Here?

Het u toorn teen die strome ontvlam?

Het die see U woedend gemaak

dat U op u perde gery het,

op die strydwaens waarmee U oorwin?

9U het u boog uitgehaal

en met 'n eed die opdrag aan die pyle bevestig. Sela

U het die aarde oopgebreek en riviere laat stroom.

10Toe die berge U sien, het hulle gebewe,

stormwaters het verbygespoel,

die diep water het gedreun

en sy golwe hoog laat opslaan.

11Toe u vlieënde pyle blits

en u blink spies flikker,

het die son en die maan gaan stilstaan op hulle plek.

12In u gramskap stap U oor die aarde,

in u toorn vertrap U die nasies.

13U het uitgegaan om u volk te red,

om u gesalfde koning te red.

U verpletter die aanvoerder van die goddeloses,

U stroop hulle kaal van kop tot tone. Sela

14Met sy eie pyle deurboor U die aanvoerder

wanneer sy manskappe uitstorm om ons te verstrooi

terwyl hulle jubel soos dié wat die

ellendiges in hulle skuilplekke verslind.

15U trek deur die see met u perde

sodat die magtige waters bruis.

16Toe ek hierdie dinge hoor, het ek gesidder,

my lippe het gebewe,

my hele liggaam het lam geword,

my bene het aan die ruk gegaan.

Tog sal ek geduldig wag

dat die dag van die oordeel

moet kom oor die volk deur wie ons aangeval is.

17Al sou die vyeboom nie bot nie

en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie,

al sou die olyfoes misluk

en die lande geen oes lewer nie,

al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie

en die beeskrale sonder beeste wees,

18nogtans sal ek in die Here jubel,

sal ek juig in God, my Redder.

19Die Here my God gee vir my krag.

Hy maak my voete soos dié van 'n ribbok,

op hoë plekke laat Hy my veilig loop.

Vir die koorleier. Met snarespel.

HABAKUK 1:1-3:19AFR83Maak oop in die Bybelleser
Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS