Bible Society of South Africa

Novum Testamentum Graece

Die Novum Testamentum Graece is die algemeenste teksuitgawe van die Griekse Nuwe Testament wat gebruik word. Sedert 1898 verskyn daar gereeld nuwe uitgawes. Hierdie reeks uitgawes staan bekend as die Nestle-Aland, en is vernoem na die beroemde Nestle en Aland wat vir die eerste uitgawes verantwoordelik was.

Die Nestle-Aland-metode

Tans is daar tussen 5 500 en 6 000 teksmanuskripte van die Nuwe Testament. Daar is ʼn groot mate van variasie tussen hierdie manuskripte. Daar is eintlik nie ʼn enkele vers in die Nuwe Testament wat presies dieselfde is in al die manuskripte waarin dit voorkom nie. Deur die eeue het kopieerders met opset of per abuis die teks aangepas. Die Nestle-Aland probeer om die ou teks op grond van al die teksvariante te rekonstrueer.

ʼn Kritiese uitgawe

Teksuitgawes soos die Nestle-Aland word kritiese uitgawes genoem. Sulke uitgawes verskaf ʼn rekonstruksie van elke vers. Die notas dui dan die manuskripte aan op grond waarvan hierdie teks gekies is. (In die vaktaal staan hierdie notas bekend as die “tekskritiese apparaat”.) Daar is dus nie ʼn enkele manuskrip wat die hele teks aanbied soos dit in die Nestle-Aland voorkom nie.

Uitgawes deur die jare

Die eerste uitgawe van Novum Testamentum Graece is in 1898 deur Eberhard Nestle gepubliseer. Dit is voorberei op grond van die teksuitgawes van Tischendorf, Westcott en Hort, en Weymouth. Indien twee of meer van die uitgawes met mekaar ooreengestem het, het Nestle die teks in die hoofteks opgeneem. Hy het variante lesings in die tekskritiese apparaat aangedui.


Nuwe uitgawes is vir ʼn eeu lank gepubliseer. Al hoe meer bronne is gebruik en die werkswyse het al hoe meer verfynd geraak. Die Nestle-Aland word steeds gepubliseer. Die 28ste uitgawe is in 2012 gepubliseer.

Betekenis vir Bybelvertalings

Die Nestle-Aland teksuitgawes was nog altyd baie belangrik vir beide die bestudering van die Nuwe Testament en die vertaling van die Bybel. Dit is steeds die geval. Die Nestle-Aland is die basisteks wat die algemeenste in die wêreld gebruik word vir vertalings van die Nuwe Testament. Dit geld vir die meeste bekende vertalings in Engels en ander tale. Die meeste vertalers gebruik die nuutste uitgawe van Nestle-Aland as vertrekpunt vir hulle vertalings van die Nuwe Testament.

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS