Bible Society of South Africa

Amen

Amen is ʼn Hebreeuse woord wat “waarlik” of “voorwaar” beteken, en word afgelei van die werkwoord wat beteken “om te glo” en “om betroubaar te wees”. Die woord amen word in die Bybel gebruik as ʼn uitroep: aan die einde van ʼn gebed, eed of lofprysing sê die mense wat luister hardop “amen” om te bevestig dat hulle saamstem.

Amen as reaksie op ʼn opdrag

Wanneer koning Dawid in 1 Konings 1:35 die opdrag gee om Salomo koning te maak, reageer Benaja, een van Dawid se bevelhebbers, met “amen” (1 Konings 1:36, 1933/1953-vertaling), wat aandui dat hy Dawid se opdrag sal uitvoer.

Amen as ʼn eed

In Deuteronomium 27:15-26, word ʼn reeks vloeke opgenoem waarmee God die Israeliete sal tref as hulle nie sy gebooie nakom nie. Die Leviete moet hierdie vloeke hardop uitspreek en die volk moet op elke vloek antwoord met “amen”. Op hierdie manier sal elkeen wat ongehoorsaam is aan God se gebooie, eintlik hom- of haarself vervloek.

Amen as antwoord op lofprysing

Wanneer ʼn leier of priester God geloof het, het die gemeente met “amen” geantwoord (1 Kronieke 16:36). Hierdie “amen” word ook aangetref in die Psalms: ʼn aantal lofpsalms eindig met “amen” (sien bv Psalm 41:14; Psalm 72:19).

Amen aan die einde van ʼn gebed

Wanneer iemand ʼn gebed doen, kon sy vrou saam met hom bid deur aan die einde saam met hom “amen” te sê (Tobit 8:8). Dit is die oorsprong van die latere tradisie om ʼn mens se persoonlike gebed met “amen” af te sluit.

Amen in die Nuwe Testament

In die Nuwe Testament kom “amen” aan die einde van gebed, seënwense en lofprysing voor, asook as ʼn antwoord op Jesus se beloftes. Daarbenewens begin Jesus se eie uitsprake met “amen” (sien bv Matteus 5:18; Matteus 5:26; Matteus 6:2). In die Afrikaanse vertalings word die aanvanklike “amen” vertaal met “Dit verseker Ek julle” of “Voorwaar Ek sê vir julle”.

Vertalings van amen

In die Afrikaanse vertalings word die uitdrukking gewoonlik as “amen” weergegee (Jeremia 11:5), maar ook soms met uitdrukkings soos “So is dit” (1 Konings 1:36), of “Ek sou dit ook graag so wou hê” (Jeremia 28:6).

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS