Bible Society of South Africa

Trou in die Ou Testament: Trou van God

Terwyl trou dikwels by mense ontbreek, is dit een van God se kenmerkende eienskappe. God is ʼn God van trou. Mense kan God onvoorwaardelik vertrou. God se trou duur voort, ten spyte van die ontrou van sy volk.


Trou in verhouding met mense


In die Ou Testament verwys “trou” na twee belangrike aspekte van God se verhouding met mense:

  • God se onvoorwaardelike betroubaarheid;
  • God se verbondsliefde: sy liefdevolle en genadige trou aan sy volk, wat Hy bewys deur die verbond wat Hy met Israel gesluit het.

Die Ou Testament gebruik ook dikwels die woord “trou” om God te beskryf en gee ʼn aanduiding van die manier waarop God mense behandel (sien 2 Samuel 2:6; Psalm 86:15).

Betroubaarheid, bestendigheid en waarheid

Die Hebreeuse woord vir “trou” beteken ook “betroubaar”, “bestendig” en “waarheid”. Elk van hierdie drie begrippe toon iets van God se trou in sy verhouding met sy volk:

  • die betroubaarheid waarmee God sy beloftes hou (Psalm 89:3-5);
  • die bestendigheid van sy hulp, waarmee Hy sy verlossende genade openbaar (Psalm 69:14);
  • die waarheid van sy gebooie wat regverdigheid verseker (Psalm 19:10).

God se trou as beskerming en leiding

Omdat God ʼn troue God is, kan mense Hom altyd vertrou, in alles wat Hy sê en doen. God se trou beskerm die mensdom: “laat u liefde en trou my voortdurend bewaak” (Psalm 40:12).



God se trou en waarheid gee mense ook leiding. God se trou lei mense in die regte rigting (Psalm 43:3). Sy trou en liefde lei diegene wat God se gebooie bewaar (Psalm 25:10).

God se trou en die ontrou van sy volk

Omdat God ʼn troue God is, behoort die optrede van sy volk teenoor Hom ook gekenmerk te word deur trou. In die manier waarop hulle lewe (1 Konings 2:4), in die manier waarop hulle na God roep (Psalm 145:18) of in sy Naam ʼn eed aflê (Jeremia 4:2) — in alles moet ʼn mens op ʼn betroubare en eerlike manier optree, in ooreenstemming met die waarheid.



Maar, selfs as sy volk ontrou is, bly God getrou: sy trou is ewig (Psalm 117:2).

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS