Bible Society of South Africa

Haman

Haman is die belangrikste man aan die hof van die Persiese koning Ahasveros. Hy wil al die Jode in die koninkryk van Persië en Medië laat doodmaak. Sy plan misluk as gevolg van die ingrype van koningin Ester en haar pleegvader, Mordegai. Die Jode word toestemming gegee om hulself te verdedig, en Haman word doodgemaak.

Die naam Haman

Die naam Haman is Persies en beteken “die grote”.

Haman is die seun van Hammedata en ʼn verlangse afstammeling van Agag, die koning van die Amalekiete (1 Samuel 15:8). Haman se vrou se naam is Seres. Saam het hulle tien seuns.

Mordegai

Haman is die belangrikste minister van koning Ahasveros. Elkeen wat hom ontmoet, moet voor hom buig, maar Mordegai weier om dit te doen. Haman is woedend en wil Mordegai doodmaak. Maar toe hy hoor dat Mordegai ʼn Jood is, bedink hy ʼn plan om al die Jode uit te wis. Hy vra van die koning toestemming om ʼn sekere groep mense dood te maak, sonder om hom te vertel watter groep mense hy in gedagte het. Hy laat ʼn galg spesiaal vir Mordegai in sy eie tuin oprig.

Koningin Ester

Toe Mordegai hoor wat Haman beplan, waarsku hy sy pleegdogter, Ester, wat met koning Ahasveros getroud is. Ester nooi haar man, koning Ahasveros, en Haman twee keer vir aandete. Die tweede keer vertel sy vir Ahasveros dat sy ook deel is van die volk wat Haman wil uitroei. Sy vra die koning om haar en haar volk te laat lewe.

Die koning is geskok wanneer hy besef wat Haman eintlik beplan. As ʼn straf hang hy Haman aan die galg wat hy vir Mordegai opgerig het. Later word die liggame van sy tien seuns ook aan hierdie paal gehang (Ester 9:13).

Ester kry al Haman se besittings en Mordegai neem sy plek in as die belangrikste minister van die koning.

Purim

Haman werp die lot (pur in Hebreeus) om te bepaal op watter dag die Jode in die Persiese Ryk uitgeroei gaan word. Die naam van die Purimfees is afgelei van hierdie woord pur. Gedurende Purim herdenk die Joodse volk hoe Ester en Mordegai hulle vyand, Haman, uitoorlê het, en dat die Joodse volk gered is.

Verwante Bybelgedeeltes

ESTER 1 1 SAMUEL 15.18 1

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS