Bible Society of South Africa

Hagar

Hagar is ʼn Egiptiese slavin in Abraham se huis. Sy is die moeder van Abraham se oudste seun Ismael, die stamvader van die Arabiese stamme (Genesis 25:12-18).


In Paulus se brief aan die Galasiërs beliggaam die slavin Hagar die ou verbond met Moses, terwyl Abraham se vrou Sara die nuwe verbond, wat deur Christus moontlik geword het, simboliseer.

Die naam Hagar

Die naam Hagar is afgelei van die Hebreeuse en Arabiese woord vir “vreemd” of “vlugteling”. Dalk het Hagar hierdie naam gekry toe sy by Abraham en Sara in diens gestel is.


Behalwe dat Hagar in die verhaal in Genesis vermeld word, word sy verder in die Ou Testament in 1 Kronieke 27:31 en Psalm 83:7 genoem.

Moeder van Ismael

In Genesis 15 belowe God aan Abraham baie nakomelinge. Abraham se vrou Sara is egter te oud om kinders te kry. Daarom gee sy haar Egiptiese slavin aan Abraham as ʼn byvrou. Indien ʼn kind uit hierdie verhouding gebore sou word, bepaal die Ou Nabye Oosterse wet dat die kind as Abraham en Sara se kind beskou sou word.


Hagar raak inderdaad swanger en bring Ismael (Genesis 16:15) in die wêreld. Maar volgens Genesis 17:15-21 wil God sy verbond voortsit deur ʼn seun wat Sara self in die wêreld bring. Hagar se seun Ismael word die voorvader van die Arabiese stamme, met wie die Israeliete ʼn baie gespanne verhouding het (Genesis 25:17-18; Psalm 83:7-8).

Aan die vlug

Genesis 16 en 21 vertel ons van Hagar se omstrede posisie in Abraham se huishouding. Die swanger Hagar vlug omdat Sara haar sleg behandel. Terwyl sy aan die vlug is, ontmoet Hagar ʼn engel. Hy stuur haar terug na Sara, maar belowe dat sy baie nakomelinge sal hê (Genesis 16:10). 


Ná Isak se geboorte wil Sara hê dat Abraham vir Hagar en Ismael moet wegstuur. In die woestyn sterf Ismael byna van dors, maar God stuur die engel om hom te red. Ismael was nie deel van God se verbond met Abraham nie, maar ook hy word die voorvader van ʼn groot nasie (Genesis 21:18).

Hagar as ʼn metafoor

In Galasiërs 4:21-31 interpreteer Paulus die verhaal van Hagar en Sara en hulle nakomelinge op ʼn simboliese manier. Wie nie in Jesus glo nie is, volgens Paulus, net soveel ʼn slaaf as die kind van ʼn slavin.


Wie wel in Jesus glo, kan die beste vergelyk word met die kind van ʼn vrygebore vrou.

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS