Bible Society of South Africa

Gad

Gad is die oudste seun van Jakob en Silpa, en die broer van Aser. Hy is een van die stamvaders van die volk Israel. Sy moeder is Silpa, maar hy word beskou as een van Lea se kinders. Gad speel nie ʼn spesifieke rol in die verhale omtrent Jakob se kinders nie.

Die naam Gad

Die naam Gad beteken “geluk”. Nadat Lea vier seuns in die wêreld gebring het, gee sy haar slavin Silpa aan Jakob as ʼn byvrou, om meer kinders deur haar te kry. Silpa het twee seuns by Jakob, Gad en Aser. By Gad se geboorte sê Lea: “Nou is ek gelukkig!” (Genesis 30:11), en daarom gee sy hom die naam Gad.


Nog ʼn persoon met die naam Gad is ʼn profeet gedurende die tyd van koning Dawid (1 Samuel 22:5; 2 Samuel 24:11-19). In sommige Bybelvertalings is die naam Gad die titel vir die geluksgod in Jesaja 65:11 (1933/1953-vertaling).

Die stam van Gad

Die naam Gad kan verwys na die stam van Gad, waarvan Gad die stamvader is. Maar dit is ook die benaming vir die gebied waar die nakomelinge van Gad gaan woon het. Daardie gebied was in die middel van die land van Israel, aan die oorkant van die Jordaan. 

Jakob se seën

As een van die 12 seuns van Jakob, ontvang Gad ʼn seën van Jakob wanneer Jakob al oud is. Jakob sê aan Gad dat sy nakomelinge agtervolg sal word, maar dat hulle ook ander sal agtervolg (Genesis 49:19).

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS