Bible Society of South Africa

Esau

Esau is die seun van Isak en Rebekka en die tweelingbroer van Jakob. Hoewel hy die oudste broer is, ontvang hy nie die seën vir die eersgeborene nie. Esau is die stamvader van die Edomiete, met wie die Israeliete gereeld konflik gehad het.

Die naam Esau

Esau word ook “Edom” genoem. Albei name beteken “rooi”. Hierdie betekenis word op twee maniere in die verhale oor Esau verduidelik. Hy het rooi hare en toe hy gebore is, was hy heeltemal met hare bedek (Genesis 25:25). Daar word ook ʼn verband gelê met die rooi lensiesop wat hy by Jakob gekry het in ruil vir sy eersgeboortereg (Genesis 25:30).


Esau is sy vader Isak se lieflingkind, omdat hy gereeld vars wildsvleis van die jagveld af huis toe bring. Sy moeder Rebekka hou meer van sy jonger tweelingbroer Jakob, wat verkies om in die tent te bly. Esau trou met verskeie Kanaänitiese vroue, alhoewel sy ouers daarteen gekant is.

Esau en Jakob

Esau ruil sy eersgeboortereg met sy jonger broer Jakob vir ʼn bord lensiesop en brood (Genesis 25:29-34). Hy staan ook sy reg as eersgeborene aan Jakob af, omdat Jakob sy blinde vader bedrieg. Jakob doen homself as Esau voor, met die gevolg dat sy vader Jakob hom seën in plaas van Esau.


Esau is so kwaad hieroor dat hy Jakob wil doodmaak. Jakob vlug na sy oom Laban in Haran. Wanneer Jakob jare later na Kanaän terugkeer, vind daar versoening tussen die broers plaas (Genesis 33:4).

Edom

Esau is die stamvader van die Edomiete. Volgens Genesis 36:6-8 gaan vestig hy en sy familie hulle met al hulle besittings in die Seïrgebergte. Hierdie bergagtige gebied aan die oorkant van die Jordaan is bekend vir sy rooi berge, daarom word dit Edom genoem.


Die Edomiete en die Israeliete verkeer gereeld in konflik met mekaar. God het die een nasie bo die ander verkies, en dit kan gesien word in die profesieë wat na Edom verwys. In Maleagi 1:2-3 lees ons byvoorbeeld: “Esau was tog Jakob se broer, sê die Here, en tog het Ek vir Jakob liefgehad en vir Esau gehaat.”



 

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS