Bible Society of South Africa

Debora

Debora is die enigste vroulike rigter in die boek Rigters. Sy word ook ʼn profetes genoem. Onder Debora en Barak se leiding verslaan die leër van Israel die leër van die Kanaäniete (Rigters 4). Hierdie oorwinning word ook gevier in die oorwinningslied van Debora en Barak in Rigters 5.

Die naam Debora

Die naam Debora beteken “heuningby”. In Rigters 4 – 5 word egter geen spesiale betekenis aan hierdie naam gegee nie. Ander vroue in die Bybel met die naam Debora is die vrou aan wie Rebekka as kind gedrink het (Genesis 35:8) en die oumagrootjie van Tobit (Tobit 1:8).

Rigter en profetes

Debora was getroud met Lappidot. Sy word ʼn rigter en profetes genoem. Dit beteken dat sy gesag gehad het en ʼn belangrike maatskaplike en geestelike funksie vervul het. Debora het in die gebied tussen Rama en Bet-El, noord van die huidige stad Jerusalem, opgetree. Sy het nie, soos gebruiklik, by die stadspoort reg gespreek nie, maar onder ʼn boom, die sogenaamde Deborapalm. 

Debora en Barak

Debora gee namens God aan Barak die opdrag om ʼn leër saam te stel om teen die Kanaäniete te veg. Koning Jabin van Kanaän het die volk al ongeveer 20 jaar lank onderdruk. Barak is bereid om hierdie opdrag uit te voer slegs op voorwaarde dat Debora hom vergesel. In reaksie hierop, voorspel Debora dat die aanvoerder van die Kanaänitiese leër deur ʼn vrou gedood sou word.


Barak en sy manskappe verslaan die Kanaäniete, maar hulle aanvoerder Sisera spring van sy strydwa af en vlug. Hy skuil in die tent van Jael en dink dat hy daar veilig sal wees. Maar wanneer hy van uitputting aan die slaap raak, slaan Jael ʼn tentpen deur sy kop, en hy sterf.

Die oorwinningslied van Debora en Barak

Ons tref die oorwinningslied van Debora en Barak in Rigters 5 aan. Boaan hierdie lied staan dat Debora en Barak hierdie lied gesing het toe hulle die leër van die Kanaäniete verslaan het. Die verhaal en die lied hoort by mekaar, maar elkeen beklemtoon verskillende dinge. 


Die lied in Rigters 5 handel oor die verskillende stamme van Israel wat saam teen die koning van Kanaän optrek. Sommige van die stamme weier egter om aan die geveg deel te neem (Rigters 5:17). Die verhaal in Rigters 4 noem slegs twee stamme en lê klem op die gesamentlike leierskap van Barak die aanvoerder van die leër, en Debora die profetes.


 

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS