Bible Society of South Africa

Benjamin

Benjamin is die jongste seun van Jakob en Ragel. Hy is een van die stamvaders van Israel. Saam met sy broer Josef, is hy sy pa Jakob se lieflingseun.

Die naam Benjamin

Die naam Benjamin beteken “seun van die regterhand” of “seun van geluk”. Wanneer sy moeder Ragel besef dat sy nie die geboorte gaan oorleef nie, noem sy haar seun Benoni, wat beteken “seun van my verdriet”. Maar sy pa Jakob gee hom die naam Benjamin (Genesis 35:16-18).


Benjamin is die jongste seun van Jakob. Omdat Benjamin en Josef gebore word wanneer Jakob al oud is, het hy hulle liewer as sy ander kinders (Genesis 37:3).

Benjamin en Josef

Die tien ander broers is jaloers op Josef. Daarom verkoop hulle hom as ʼn slaaf na Egipte. Jare later gaan hulle na Egipte om koring te koop, maar hulle weet nie dat Josef intussen amper die magtigste man in die land geword het nie, en hulle herken hom nie.


Op hulle eerste reis neem die broers nie vir Benjamin saam met hulle nie, omdat hulle vader bang is dat iets met hom sal gebeur. Maar Josef beveel sy broers om Benjamin die volgende keer saam te bring. Om sy broers te toets, steek Josef in die geheim ʼn waardevolle beker in Benjamin se sak weg. Wanneer dit lyk asof Juda en die ander broers bereid is om Benjamin te verdedig, vertel Josef sy broers wie hy is.

Die stam van Benjamin

Die naam Benjamin kan verwys na die stam van Benjamin, waarvan Benjamin die stamvader is. Maar dit is ook ʼn aanduiding van die gebied waar die nageslag van Benjamin gaan bly het. Daardie gebied was in die middel van Israel, bokant die grondgebied van Juda.

Jakob se seën

As een van die 12 seuns van Jakob, ontvang Benjamin ʼn seën van Jakob wanneer Jakob al oud is. Jakob vergelyk die nakomelinge van Benjamin met ʼn “verskeurende wolf” (Genesis 49:27). 


Die seën vir Benjamin is soos dié vir Juda, wat met ʼn leeu vergelyk word. Die twee stamme reis dikwels saam, wat beteken dat Juda meestal die een is wat Benjamin beskerm. Die grondgebiede van die twee stamme is ook naby mekaar, en saam vorm hulle die basiese deel van die gebied wat die suidelike ryk van Juda genoem word.

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS