Bible Society of South Africa

Barak

Barak is die leëraanvoerder gedurende die tyd toe die profetes Debora ʼn rigter oor Israel was. Sy gee aan hom die opdrag om teen die Kanaäniete te veg. Barak verslaan die leër van die Kanaäniete en hulle bevelvoerder vlug. Hy skuil in ʼn tent, maar word deur ʼn vrou doodgemaak. Ná afloop van die geveg, sing Barak en Debora ʼn oorwinningslied wat bekend staan as “Die oorwinningslied van Debora en Barak” (Rigters 5:1).

Die naam Barak

Die naam Barak beteken “weerlig/bliksem”. Daarom gee sommige Bybelvertalings sy naam weer as “weerlig Barak”/“bliksemse Barak”.


Hebreërs 11:32 noem Barak een van die geloofshelde, saam met Gideon, Jefta en Simson.

Barak en Debora

Barak is die seun van Abinoam uit die stam van Naftali. Hy ontvang die opdrag van die profetes en rigter Debora om met 10 000 soldate uit die stamme van Naftali en Sebulon teen die leër van die Kanaäniete te veg. Koning Jabin van Kanaän het 900 strydwaens van yster tot sy beskikking en het die volk Israel 20 jaar lank onderdruk.


Barak is gewillig om hierdie opdrag uit te voer, maar slegs as Debora saam met hom gaan. In reaksie hierop voorspel Debora dat die aanvoerder van die Kanaänitiese leër deur ʼn vrou doodgemaak gaan word.

Barak en Jael

Barak verslaan die leër van die Kanaäniete omdat God groot paniek in hulle geledere saai. Hulle bevelvoerder Sisera spring uit desperaatheid van sy strydwa af en vlug na die kamp van die Keniete, ʼn volk wat op goeie voet met die Kanaäniete was.


Daar vra Sisera vir Jael om hom in haar tent te versteek en hom nie te verraai nie. Maar wanneer hy van uitputting aan die slaap raak, dryf sy ʼn pen deur sy kop met ʼn hamer, en hy sterf. Wanneer Barak en sy soldate ʼn tydjie later na Jael se tent kom om Sisera te vermoor, is hy reeds dood.

Die oorwinningslied van Debora en Barak

Die verhaal in Rigters 4 oor die geveg met die Kanaäniete word opgevolg met ʼn oorwinningslied in Rigters 5. Hier lees ons dat Debora en Barak hierdie lied sing.


Die verhaal en die lied hoort bymekaar, maar stem nie geheel en al met mekaar ooreen nie. Volgens Rigters 4 was daar net soldate uit die stamme van Naftali en Sebulon wat saam met hulle geveg het, maar in Rigters 5 word meer stamme van Israel genoem.

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS