Bible Society of South Africa

Amram

Amram is die vader van Moses, Aäron en Mirjam. Soos sy vrou Jogebed, behoort hy tot die stam van Levi.

Die naam Amram

Die naam Amram beteken “verhewe volk” en verwys na die volk Israel wat in Egipte gebly het. Amram behoort tot die stam van Levi soos sy vrou Jogebed, wat ook sy tante is (Eksodus 6:19). Saam het hulle drie kinders: Mirjam, Aäron en Moses.

Die geboorte van Moses

Toe hulle jongste seun gebore is, steek Amram en Jogebed hom vir drie maande weg. Dit doen hulle omdat die farao opdrag gegee het dat al die seuntjies van die volk Israel in die Nyl gegooi moet word. Ná drie maande plaas Jogebed haar babaseuntjie in ʼn biesiemandjie Eksodus 2:3 en plaas hom tussen die riete op die oewer van die Nyl. Daar vind ʼn Egiptiese prinses hom en neem hom aan as haar seun en noem hom Moses. 

Vader van Aäron, Moses en Mirjam

Daar bestaan nie ander verhale oor Amram in die Bybel nie, maar sy naam verskyn tog in geslagregisters om aan te dui wie aan watter familie behoort. In hierdie lyste word Amram as die vader van Aäron, Moses en Mirjam genoem (Numeri 26:59).

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS