Bible Society of South Africa

Amos

Amos was ʼn boer uit Tekoa in die suidelike ryk van Juda. Hy het omstreeks 750 v.C. as ʼn profeet opgetree in die noordelike ryk van Israel in die tyd van koning Jerobeam II.

Die boek van die profeet Amos, een van die twaalf “kleiner profete”, is na hom vernoem.

Die naam Amos

Die naam Amos beteken “lasdraer”.

Die profeet Amos is nie dieselfde as Amos die vader van die profeet Jesaja (Jesaja 1:1), nie. In Hebreeus word hierdie twee name verskillend gespel.

Amos van Tekoa

Amos was ʼn skaapteler en vyeboer van Tekoa. Hierdie plek was omtrent 15 kilometers suid van Jerusalem geleë. God gee egter vir Amos die opdrag om na die noordelike ryk van Israel te gaan om daar te profeteer.

Die maghebbers in Israel is nie gelukkig met die kritiek wat Amos lewer nie. Hulle sê vir hom: “Maak dat jy wegkom, siener, gaan na Juda toe en verdien jou brood daar, tree daar as profeet op!” (Amos 7:12). Maar Amos antwoord: “Ek is nie so ʼn profeet nie en ek behoort nie tot die profetekring nie, ek boer met vee en kweek wildevye” (Amos 7:14).

Onreg en ongelykheid

In die tyd van Amos was daar ʼn redelike mate van vrede en voorspoed in Israel en Juda. Dit was hoofsaaklik die rykes wat hieruit voordeel getrek het. Die armes van die bevolking is deur die rykes uitgebuit. In sy profesieë kritiseer Amos die onreg en ongelykheid in die samelewing. Hy is ook krities teenoor die ander negatiewe gevolge van welwaart, soos hebsug, losbandigheid, korrupsie en afgodery.
En Amos waarsku die volk dat God hierdie onreg gaan straf. Hy sê dat die vyande die hoofstad Samaria gaan verwoes en die mooi huise gaan kaalstroop (Amos 3:11-15).
Hierdie profesie word in 722 v.C. bewaarheid wanneer die Assiriërs die stad Samaria inneem en plunder. Dit bring ʼn einde aan die noordelike ryk van Israel.

Verwante Bybelgedeeltes

2.6 AMOS 1.1

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS