Bible Society of South Africa

Ahab

Agab was koning oor die noordelike ryk Israel van ongeveer 871 tot 852 v.C. Hy het in die voetspore van sy vader Omri gevolg en het gesorg vir ekonomiese welvaart. Volgens die Bybel was Agab ʼn slegte koning omdat hy die vrugbaarheidsgod Baäl gedien het.

Die naam Agab

Die naam Agab beteken “die broer het ʼn pa geword”, wat wys hoe trots sy vader was toe Agab gebore is. Agab volg sy vader Omri as koning op en regeer 22 jaar lank in Samaria oor die noordelike ryk.


Agab trou met prinses Isebel van Sidon. Sy moedig hom aan om die Kanaänitiese god Baäl, in plaas van die God van Israel, te dien.

Agab en Elia

God stuur die profeet Elia na Agab toe. Elia kondig aan dat daar drie lank jaar geen reën gaan val nie en dat die land onder ʼn droogte gebuk sal gaan. Ná daardie drie jaar keer Elia na koning Agab terug en versoek hom om ʼn kompetisie tussen die profete van Baäl en homself te organiseer. Hulle en Elia moet ʼn altaar bou en ʼn offer aan hulle god bring, en hom vra om die offervuur aan te steek. Daar is geen reaksie van Baäl op die pleidooie van sy profete nie, maar die God van Israel steek Elia se offer met vuur uit die hemel aan die brand.

Buite-bybelse tekste

Behalwe vir die bybelse verwysings, word Agab ook genoem in ander antieke dokumente. Die Assiriese koning Salmaneser III skryf dat Agab een van sy teenstanders was in die veldslag by Karkar (853 v.C.).


Op die Mesasteen skryf koning Mesa dat: “Agab die seun van Omri, soos sy pa, die Maobiete verdruk het”. Volgens 2 Konings 3:4-5 het koning Mesa in opstand gekom teen die Israeliete ná die dood van Agab.

Dood van Agab

Volgens 1 Konings 22 het Agab in die oorlog teen die Arameërs omgekom. Aangesien die profeet Miga die seun van Jimla hom vooraf hieroor gewaarsku het, het Agab hom soos ʼn gewone soldaat aangetrek sodat die Arameërs hom nie in die veldslag sou herken nie.


Maar ʼn soldaat uit die Aramese leër span sy boog en die pyl tref Agab toevallig tussen die skubbe van sy harnas. Hy word ernstig verwond en kan nie die slagveld verlaat nie, en sterf weens bloedverlies teen die einde van die dag.


 

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS