Bible Society of South Africa

Abraham

Abraham is een van die aartsvaders van die volk Israel. God beveel hom om sy familie te verlaat en na die land Kanaän te gaan. Toe Abraham al baie oud is, het hy ʼn seun met die naam Isak, in Kanaän. Hierdie seun is die vervulling van God se belofte dat Abraham die voorvader van ʼn groot nasie sou wees.

Die naam Abraham

Abraham se naam was oorspronklik Abram. Die naam beteken “die (goddelike) vader is verhewe”. Later ontvang hy van God die naam Abraham (Genesis 17:5). Die naam beteken “vader van baie nasies”.


Abram se familie verlaat Ur, ʼn stad van die Chaldeërs, om na die land Kanaän te gaan. ʼn Deel van die familie bly agter in Haran. Net Abram en sy vrou Sarai en sy broerskind Lot reis na Kanaän.

God belowe ʼn seun

Abram en Sarai het nie kinders nie. Steeds bly God hulle belowe dat hulle ʼn groot nageslag sal hê. Dit is hoekom hulle die name, Abraham en Sara, ontvang.


Omdat Sara vir ʼn lang tyd onvrugbaar was, gee sy haar slavin Hagar aan Abraham as sy vrou om namens haar kinders in die wêreld te bring. Maar Hagar se seun Ismael is nie die kind wat God belowe het nie. Wanneer Abraham 100 jaar oud word, het hy ʼn seun met die naam Isak by Sara. 


Volgens Genesis 25:1-2 trou Abraham met nog ʼn vrou, Ketura, ná Sara se dood. Sy bring nog ses kinders in die wêreld. Abraham stuur hierdie seuns weg met geskenke, sodat Isak nie nodig het om sy erfenis met hulle te deel nie.

Isak as offer

Isak is die seun wat God aan Abraham belowe het. God gee egter aan Abraham die opdrag om Isak te offer. Abraham besluit om hierdie onverstaanbare taak uit te voer, maar net voordat hy Isak offer, hoor hy ʼn stem uit die hemel wat sê: “Los jou seun! Moenie iets aan hom doen nie. Nou weet Ek dat jy My dien: jy het nie geweier om jou seun, jou enigste seun, aan My te offer nie” (Genesis 22:12). Toe sien Abraham ʼn ram wat hy in sy seun se plek offer. 

Vader van almal wat glo

In die Nuwe Testament word Abraham voorgehou as ʼn voorbeeld vir almal wat glo. Paulus sien in hom ʼn voorbeeldfiguur vanweë sy geloof in God (Romeine 4:1-25; Galasiërs 3:6-29). Abraham is nie vrygespreek op grond van sy goeie dade nie, maar omdat hy in God geglo het.


 

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS