Bible Society of South Africa

Aäron

Aäron is Moses se broer. Hy is die eerste hoëpriester van die volk Israel.


Toe Moses ʼn lang tyd in die woestyn wegbly, raak die Israeliete ongeduldig en maak Aäron vir hulle ʼn goue beeld van ʼn bulkalf.

Die naam Aäron

Die naam Aäron beteken “verligte”. Aäron is die broer van Moses en Mirjam. Hulle ouers se name was Amram en Jogebed, en hulle behoort aan die stam van Levi. Hulle was deel van die volk Israel wat in Egipte verdruk is. Aäron trou met Eliseba uit die stam van Juda. Saam het hulle vier seuns: Nadab, Abihu, Eleasar en Itamar (Eksodus 6:22).

Aäron en Moses

God gee aan Aäron en sy broer Moses die taak om die volk Israel uit Egipte te bevry (Eksodus 4:10-17). Hulle gaan saam na die farao, maar hy weier om sy slawe te laat gaan. Eers ná tien plae gee hy toestemming dat die Israeliete mag gaan.

Hoëpriester

Aäron en Moses lei die volk veertig jaar lank deur die woestyn. Gedurende die reis word Aäron as die eerste hoëpriester in die heiligdom gewy. Sy seuns word ook as priesters gewy. Saam met hulle is Aäron verantwoordelik vir die offers en die heilige tabernakel.


Die latere priesters van die volk Israel is afstammelinge van die stam van Levi en die familie van Aäron.

Die goue kalf

Toe die Israeliete by Sinaiberg is, klim Moses teen die berg uit om God te ontmoet. Die volk dink dat Moses te lank talm om af te kom. Hulle vra Aäron daarom vir ʼn god wat hulle verder die woestyn in kan lei.


Aäron durf nie hulle versoek weier nie. Hy beveel die Israeliete om hulle juwele in te lewer. Hieruit maak hy ʼn goue beeld in die vorm van ʼn bulkalf (Eksodus 32:1-6).


Toe Moses van die berg afkom en die goue kalf sien, is hy woedend. Hy gooi die twee kliptafels wat God aan hom gegee het op die grond, en dit breek. Daarna vernietig hy die goue kalf deur dit te verbrand en meng die as uit die vuur met die water wat die Israeliete drink (Eksodus 32:15-20).

Aäron se dood

Aäron sterf net voor die volk die beloofde land binnegaan. Hy word op Horberg begrawe (Numeri 33:38-39).


 

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS