Bible Society of South Africa

Bybelse Persone

Aäron

Aäron is Moses se broer. Hy is die eerste hoëpriester van die volk Israel.

Abel

Abel is die tweede seun van Adam en Eva en die broer van Kain. Abel word deur sy broer Kain vermoor, maar God merk die bloed van Abel op. Die bloed van Abel verwys in die Nuwe Testament na regverdige mense wat gesterf het alhoewel hulle onskuldig is.

Abimelek (koning van Gerar)

Abimelek is die koning van die stad Gerar, in die gebied van die Filistyne op die grens met die land Kanaän. Beide Abraham en Sara, sowel as Isak en Rebekka bring as vreemdelinge tyd in hierdie stad deur.

Abner

Abner is aan Saul verwant en is die bevelvoerder van sy leër. Ná Saul se dood voer hy bevel oor die leër van Saul se seun Isboset. Abner word deur Joab, Dawid se leëraanvoerder, doodgemaak, nadat hy met Dawid oor vrede gaan onderhandel het.

Abraham

Abraham is een van die aartsvaders van die volk Israel. God beveel hom om sy familie te verlaat en na die land Kanaän te gaan. Toe Abraham al baie oud is, het hy ʼn seun met die naam Isak, in Kanaän. Hierdie seun is die vervulling van God se belofte dat Abraham die voorvader van ʼn groot nasie sou wees.

Adam

Adam is die man wat saam met Eva die eerste mensepaar vorm wat in die Bybel genoem word. Adam is die voorvader van die mensdom. Adam en Eva leef in die tuin van Eden totdat God hulle wegstuur. Saam is hulle die ouers van Kain, Abel en Set.

Agrippa

Koning Agrippa II is die seun van Herodes Agrippa I en ʼn agterkleinkind van Herodes die Grote. Hy het vanaf 48 tot ongeveer 93 n.C. regeer.

Ahab

Agab was koning oor die noordelike ryk Israel van ongeveer 871 tot 852 v.C. Hy het in die voetspore van sy vader Omri gevolg en het gesorg vir ekonomiese welvaart. Volgens die Bybel was Agab ʼn slegte koning omdat hy die vrugbaarheidsgod Baäl gedien het.

Ahasveros

Ahasveros is die koning van die Persiese Ryk. Hy verleen toestemming aan sy belangrikste minister, Haman, om al die Jode in sy koninkryk te vermoor. Maar toe ontdek Ahasveros dat sy gunstelingvrou, Ester, ook deel van die volk is.

Amos

Amos was ʼn boer uit Tekoa in die suidelike ryk van Juda. Hy het omstreeks 750 v.C. as ʼn profeet opgetree in die noordelike ryk van Israel in die tyd van koning Jerobeam II.

Amram

Amram is die vader van Moses, Aäron en Mirjam. Soos sy vrou Jogebed, behoort hy tot die stam van Levi.

Argelaos

Argelaos is een van Herodes die Grote se seuns. Na die dood van sy vader ontvang Argelaos die beheer oor Judea, Samaria en Idumea. Argelaos is vanaf 4 v.C. tot 6 n.C. heerser oor hierdie gebiede.

Aser

Aser is die tweede seun van Jakob en Silpa, en die broer van Gad. Hy is een van die stamvaders van die volk Israel. Sy moeder is Silpa, maar hy word as ʼn kind van Lea beskou. Aser speel nie ʼn spesifieke rol in die verhale oor Jakob se kinders nie.

Atalia

Atalia was koningin van die suidelike ryk van Juda van ongeveer 845 tot 840 v.C. Haar regering het gevolg op ʼn bloedige staatsgreep. Die bybelse skrywers skets ʼn negatiewe prentjie van Atalia; sy was gewelddadig en het die Baälaanbidding aangemoedig.

Augustus

Augustus was die eerste keiser van die Romeinse Ryk. Hy is by sy geboorte Gaius Octavianus genoem, maar as keiser het hy die naam Augustus (die “verhoogde”) ontvang. Hy was vanaf 27 v.C. tot 14 n.C. keiser.

Barak

Barak is die leëraanvoerder gedurende die tyd toe die profetes Debora ʼn rigter oor Israel was. Sy gee aan hom die opdrag om teen die Kanaäniete te veg. Barak verslaan die leër van die Kanaäniete en hulle bevelvoerder vlug. Hy skuil in ʼn tent, maar word deur ʼn vrou doodgemaak. Ná afloop van die geveg, sing Barak en Debora ʼn oorwinningslied wat bekend staan as “Die oorwinningslied van Debora en Barak” (Rigters 5:1).

Bartimeus

Bartimeus is ʼn blinde bedelaar wat deur Jesus in die stad Jerigo gesond gemaak word. Nadat hy genees is, word Bartimeus een van Jesus se volgelinge.

Batseba

Batseba was een van die vroue van koning Dawid en die moeder van sy opvolger, Salomo. Dawid misbruik sy mag as koning op ʼn skaamtelose manier om met haar te kan trou. As koninginmoeder het sy baie politieke invloed.

Benjamin

Benjamin is die jongste seun van Jakob en Ragel. Hy is een van die stamvaders van Israel. Saam met sy broer Josef, is hy sy pa Jakob se lieflingseun.

Bilha en Silpa

Bilha en Silpa is byvroue van Jakob. Ragel gee haar slavin Bilha aan Jakob as sy vrou, om kinders vir haar in die wêreld te bring. Lea doen dieselfde met haar slavin Silpa.

Boas

Boas is ʼn ryk boer uit Betlehem. Hy trou met Rut, wat as ʼn weduwee uit Moab daarheen kom. Boas en Rut het ʼn seun met die naam Obed, wat die oupa van koning Dawid is.

Dan

Dan is die oudste seun van Jakob en Bilha, en die broer van Naftali. Hy is een van die stamvaders van die volk Israel. Sy moeder is Bilha, maar hy word beskou as Ragel se seun. Dan speel nie ʼn spesifieke rol in die verhale oor Jakob se kinders nie.

Debora

Debora is die enigste vroulike rigter in die boek Rigters. Sy word ook ʼn profetes genoem. Onder Debora en Barak se leiding verslaan die leër van Israel die leër van die Kanaäniete (Rigters 4). Hierdie oorwinning word ook gevier in die oorwinningslied van Debora en Barak in Rigters 5.

Dina

Dina is die dogter van Jakob en Lea. Op ʼn dag word sy verkrag deur iemand wat later met haar wil trou. Wanneer Dina se broers hoor wat gebeur het, bedink hulle ʼn plan om hulle suster se verkragting te wreek.

Efraim

Efraim is die jongste seun van Josef en sy Egiptiese vrou Asenat, met ʼn ouer broer met die naam Manasse. Hulle grootvader Jakob beskou hulle as net so belangrik as sy eie seuns, en daarom gee hy hulle ʼn spesiale seën aan die einde van sy lewe.

Elia

Elia was ʼn profeet in die noordelike ryk van Israel in die tyd van koning Agab en sy seun Ahasia. Elia wou hê dat die volk die God van Israel moes aanbid, en nie die vrugbaarheidsgod Baäl nie.

Elimelek

Elimelek is die man van Naomi en kom uit Betlehem. Gedurende ʼn droogte neem hy sy gesin om tydelik in die land Maob te gaan bly. Terwyl hulle daar is, sterf Elimelek en albei sy seuns.

Elisa

Elisa is die leerling en die opvolger van die profeet Elia. Hy begin sy optrede as profeet in die noordelike ryk van Israel op ʼn tydstip toe die koningskap van die familie van Agab naby aan sy einde kom. Soos sy leermeester doen Elisa wonderwerke en maak mense gesond.

Elkana

Elkana is met twee vroue, Hanna en Peninna, getroud. Elkana het Hanna lief, alhoewel sy nie vir hom enige kinders kon kry nie. Uiteindelik word Hanna swanger en bring ʼn seun, wat sy Samuel noem, in die wêreld.

Esau

Esau is die seun van Isak en Rebekka en die tweelingbroer van Jakob. Hoewel hy die oudste broer is, ontvang hy nie die seën vir die eersgeborene nie. Esau is die stamvader van die Edomiete, met wie die Israeliete gereeld konflik gehad het.

Esra

Esra is ʼn priester en skrifgeleerde wat aan die Judese ballinge wat teruggekom het, verduidelik hoe om aan die wet van God getrou te wees. Die boek Esra is na hom vernoem. Die boek het te make met die situasie van die Jode in die Persiese provinsie Juda in die eerste eeue ná die Babiloniese ballingskap.

Eva

Eva is die vrou wat saam met Adam die eerste mensepaar in die Bybel vorm. As die moeder van alles wat lewe, word sy die naam Eva gegee. Eva en Adam is saam die ouers van Kain, Abel en Set.

Filippus (die seun van Herodes)

Filippus is een van die seuns van Herodes die Grote. Ná die dood van sy vader, word Filippus vanaf 4 v.C. tot 34 n.C. heerser van die noordelike deel van sy vader se koninkryk. Hierdie Filippus word drie keer in die Nuwe Testament vermeld.

Gad

Gad is die oudste seun van Jakob en Silpa, en die broer van Aser. Hy is een van die stamvaders van die volk Israel. Sy moeder is Silpa, maar hy word beskou as een van Lea se kinders. Gad speel nie ʼn spesifieke rol in die verhale omtrent Jakob se kinders nie.

Gam

Gam is die jongste seun van Noag. Hy oorleef die groot vloed in die ark saam met sy ouers en sy broers Sem en Jafet. Ná die vloed word Gam die voorvader van verskillende nasies, insluitende die Kanaäniete.

Gideon

Gideon word deur God geroep om Israel van die Midianiete te bevry. Met ʼn groep van 300 soldate val hy die Midianiete aan en verdryf hulle. Die Israeliete vra hom dan om oor hulle te regeer, maar hy wys dit van die hand. Maar hoewel Gideon nie amptelik ʼn koning van Israel is nie, tree hy in werklikheid soos een op.

Hagar

Hagar is ʼn Egiptiese slavin in Abraham se huis. Sy is die moeder van Abraham se oudste seun Ismael, die stamvader van die Arabiese stamme (Genesis 25:12-18).

Haggai

Haggai is ʼn profeet wat sy optrede omstreeks 520 v.C. in die Persiese provinsie Juda begin. Hy roep die volk op om die tempel van God te herbou.

Haman

Haman is die belangrikste man aan die hof van die Persiese koning Ahasveros. Hy wil al die Jode in die koninkryk van Persië en Medië laat doodmaak. Sy plan misluk as gevolg van die ingrype van koningin Ester en haar pleegvader, Mordegai. Die Jode word toestemming gegee om hulself te verdedig, en Haman word doodgemaak.

Hanna

Hanna is die vrou van Elkana en die moeder van Samuel. Sy was vir ʼn lang tyd kinderloos, maar smeek God vir ʼn seun. Sy belowe dat die kind God lewenslank sal dien.

Henog

Henog is ʼn nakomeling van Adam. Hy leef in so ʼn noue verbondenheid met God dat hy nie op die normale manier sterf nie, maar deur God weggeneem word.

Herodes Agrippa I

Herodes Agrippa I is die kleinseun van Herodes die Grote. Danksy ʼn goeie verhouding met die Romeinse keisers tussen 37 en 44 n.C. kry hy beheer oor die hele gebied waaroor sy oupa geheers het. Die boek Handelinge noem Herodes Agrippa in verband met die vervolging van die eerste Christene.

Herodes Antipas

Herodes Antipas is ʼn seun van Herodes die Grote. Ná die dood van sy vader word hy van 4 v.C. tot 39 n.C regeerder van Galilea en Perea. Herodes Antipas het Johannes die Doper laat onthoof. Volgens die Evangelie volgens Lukas was hy ook betrokke by Jesus se teregstelling.

Herodes die Grote

Herodes die Grote was vanaf 37 tot 4 v.C. koning van die Romeinse provinsie Judea. Hy was ʼn bekwame regeerder wat groot bouprojekte uitgevoer het. Hy was egter ook baie gewelddadig en wraaksugtig.

Hiskia

Hiskia was vanaf ongeveer 725 tot 697 v.C. koning oor die suidelike ryk van Juda. Sy opstand teen die Assiriese onderdrukkers lei tot die verwoesting van groot dele van die land. Tog sien die Bybelskrywers Hiskia as ʼn goeie koning omdat hy toegesien het dat afgode nie langer aanbid is nie.

Hoofstuk 1 [video]

Afrikaans | Matteus 1:1–2:23

Hoofstuk 1 [video]

Afrikaans | Johannes 1:1–34

Hoofstuk 1 [video]

Afrikaans | Markus 1:1–45

Bible Society of South Africav.4.17.10
VOLG ONS